Nadat die Tshwane-metro ontken het dat die Mountain View-ministortingsterrein voor sluitingstyd sluit, is nog klagtes van inwoners hieroor ontvang.
Volgens Hennie Bezuidenhout, ‘n inwoner van Mountain View, was hy twee keer voor sluitingstyd by die terrein en is telkens weggewys.
“Op 30 April en weereens op 14 Mei is ons na die stortingsterrein om vullis te gaan aflaai. Ons het albei kere om 17:20 daar aangekom en albei kere was die terrein gesluit.”
Hy het gesê dat die personeel wat daar werk hom ingelig het dat die terrein om 17:00 sluit, maar die bordjie wat by die hek aangebring is, sê uitdruklik dat dit eers om 17:45 sluit.
Dit is nie die eerste keer dat inwoners hierdie probleem ondervind nie. Rekord het die Tshwane-metro voorheen hieroor gekontak en hulle het gesê die inwoners het dit mis. Die werkers het ook die bewerings teen hulle ontken.
“Hoe kan hulle dit ontken, ons is die mense wat die terrein gebruik. Die werkers raai ons ook dikwels aan om eerder die Onderstepoort-stortingsterrein te gebruik, en dit is ver,” het ‘n ander inwoner, wat dieselfde klagte het, gesê.
Die inwoner het ook gesê dat sommige mense hul rommel in ‘n oop veld voor hul huise gooi.
Bezuidenhout het genoem dat die terrein voorheen altyd om 17:45 gesluit het. “Ek wil weet wat die situasie is, want dit gebeur nou gereeld dat mense klagtes hieroor het. As die tye verander het, moet ‘n bordjie met die juiste tye aangebring word,” het hy gesê.
Bezuidenhout het ook gesê die terrein se toesighoudende beampte behoort die plek te besoek om homself te vergewis van die vieslike toestande aldaar.
Die Tshwane-metro se Selby Bokaba het gesê dat slegs die Mabopane- en Cullinan-rommeloordragstasies huishoudelike- én tuinafval aanvaar.
Hy het ook bevestig dat die sluitingstye nie verander het nie.
