Vrou byna verlam na grusame ongeluk
Anita Strydom lê nog in die intensiewe eenheid nadat sy haar nek gebreek het in ongeluk.

’n Man se hart bloei vir sy vrou wie na ’n erge motorongeluk vir haar lewe in die hospitaal veg.
Anita Strydom (49) was Maandagoggend op pad werk toe, toe ’n taxi van voor in haar voertuig gebots het. Strydom was een van 11 mense wat tydens die ongeluk beseer is.
Volgens Best Care-ambulansdienste se woordvoerder, Xander Loubser, is ’n insittende van die taxi op die toneel aan ’n hartaanval dood. ’n Verdere nege pasiente is op die toneel vir beserings behandel.
Die ongeluk het op ’n draai in Daan de Wet Nelrylaan, naby Waterbokstraat plaasgevind.
Volgens ’n ooggetuie, Michael Ehlers (30), het die taxi teen die aankomende verkeer gery. “Dit was pik donker op die pad. Ek was sowat twee voertuie agter Strydom se voertuig. Die een oomblik sien ek die taxi ry in ons laan en die volgende sien ek net diskoligte,” het Ehlers gesê.
Ehlers het gesien hoe Strydom probeer het om vir die taxi uit te swaai, maar dit was te laat. “Dit was ’n wonderwerk dat die bestuurder van die voertuig voor my, nie ook in die ongeluk betrokke was nie,” het hy bygevoeg. Dié drywer het net betyds uitgeswaai.
Die taxi het na bewering oor die sperstreep in die pad gery om ’n ander voertuig verby te steek.
Ehlers is van mening dat die feit dat die straatligte op daardie stuk pad nie werk nie, bygedra het tot die ongeluk. “Ek is twee dae later byna ook in ’n ongeluk by dieselfde plek gewees omdat die strate so donker is.”
Ehler het Strydom se man, Gerhard geskakel nadat die ongeluk plaasgevind het.
Strydom is per ambulans na die Akasia-hopsitaal geneem vanwaar sy met ’n helikopter na Een Mill-hospitaal oorgeplaas is. Gerhard het verduidelik dat sy vrou se nek, pelvis en regterarm gebreek is en haar lewer is geskeur.
“Sy is nog op respirators omdat sy nie self kan asemhaal nie. Anita is nog nie geopereer nie, omdat haar bloeddruk te laag is,” het hy gesê. “Die dokter het vir my gesê dit kon baie erger gewees het. Dis ’n wonderwerk dat sy nie verlam is nie.”
Gerhard gaan kuier elke dag vir sy vrou, met die hoop om haar weer beter te sien.


