Die diefstal van kragkabels in Wonderboom-Suid en Mayville het die afgelope drie maande tot kommerwekkende hoogtes gestyg.
Dit kom nadat raadslid Elmarie Linde ongeveer twee keer ’n week oproepe van woedende inwoners ontvang wat oor die gebrek aan krag kla. “Wanneer ons ondersoek instel vind ons dat die oorsaak aan gesteelde kragkabels toegeskryf kan word. Dit is nou ’n gereelde gebeurtenis en is kommerwekkend.”
Linde vermoed die kragkabels word in die vroeë oggendure gesteel.
Sy het gesê daar is twee inwoners waarvan sy weet wat op suurstof is en sonder krag by hul huis sukkel hulle om die suurstofapparaat te gebruik. Sy meen dat dit lewensgevaarlik is en iets aan die diefstalle gedoen moet word.
Johan Erickson, ’n bekommerde inwoner, het gesê dat Wonderboom-Suid en Mayville gereeld sonder krag sit en dit ’n veiligheidsrisiko vir die inwoners inhou. “Dit is stik donker as die straatligte uit is en dus verhoog dit die kanse dat inbrake kan plaasvind.”
Linde het gesê dat hulle in Junie verskeie rolspelers soos die Tshwane-metropolisie, buurtwagte, polisie en die Tshwane-metro bymekaar gaan kry om aan ’n werkbare oplossing te dink en te implimenteer.
Adjudant-offisier Wanda Olivier, woordvoerder van die Wonderboompoort-polisie, het bevestig dat daar wel kabeldiefstal in die Wonderboom-Suid-omgewing plaasgevind het, maar volgens die sake wat geregistreer is, blyk die diefstalle nie twee keer ’n week te wees nie.
“Selfs al is dit net een diefstal is dit een te veel. Ons moedig inwoners aan om die polisiestasie te kontak en dit aan te meld sodat ons rekord daarvan kan hou,” het Olivier gesê.
Sy moedig inwoners aan om enige verdagte voertuie en persone by hul sektorbestuurders of GPF-patrolleerders aan te meld.
Navrae: Adjudant-offisier Danielle Bruwer sektor 2 by 071-675-7323 en adjudant-offisier Alfred Matlou sektor 1 by 071-675-7388.
