CrimeLocal newsNews

Pink Panther-dief slaan toe by woonstelkompleks

Kieskeurige dief teiken duur parfuum en juwele.

Polisie is steeds opsoek na ‘n kieskeurige juweel- en laventeldief met ‘n passie vir netheid wat ‘n skrikbewind in die ooste van Pretoria voer. Sy teiken is by voorkeur vroue wat alleen woon en volgens een van sy slagoffers, Anne-Marie Porteous, moet die knaap blykbaar klein van postuur wees.

“By ons veiligheidskompleks, die Lee-woonstelkompleks in Elarduspark, is daar sowat 160 eenhede en die dief het al by vier eenhede op presies dieselfde wyse ingebreek. Hy maak ‘n klein gaatjie in een van die ruite van die badkamervenster en met een of ander toerusting druk hy die grendel van die venster af. Hy wurm homself dan deur die nou openinge van diefwering. Hoe hy dit regkry, weet ek nie, want ekself is klein van postuur en sal dit nie kan doen nie.” Volgens Porteous het die dief ‘n goeie sin van die waarde van juwele. Die kos-tuumjuwele en -krale los hy net so en bepaal hom by die duur juwele.

“Waar juwele tussen klere versteek word, soos in my geval, het hy – nadat hy dit geneem het – die klere weer netjies reggepak. Hy het ook ‘n goeie neus vir parfuum. Dit wil voorkom of hy by al die eenhede waar hy tot dusver ingebreek het eerste op die parfuum konsentreer. By my buurvrou, wat ‘n hele paar botteltjies parfuum nog in hulle verpakkingsdosies gehad het, het hy die parfuum uit die dosies gehaal en die leë dosies toegemaak en weer netjies reggepak,” vertel Porteous. Die dief se slagoffers is dronkgeslaan, want die veiligheidskompleks spog met ‘n hekwag wat 24 uur aan diens is. “Ons het al by Koos van Dyk, die opsigter van die kompleks, oor die diefstalle gekla. Maar dit lyk asof hy weinig daaromtrent kan doen. Al die eenhede is van mekaar afgesper met hoë mure, wat beteken dat die klein dief oor mure en hekke moet klim om by die badkamervensters uit te kom. Ofskoon die gebied in die kompleks gepatrolleer word, is daar tot dusver geen spoor van die dief gevind nie.”

Die vroue in ons kompleks leef nou in vrees dat hulle die volgende slagoffer gaan wees,” vertel sy.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button