Skietvoorval by motorhandelaar
’n Skietery het ontstaan tydens ’n besigheidsroof in Sinoville.

’n Skietvoorvaal het Maandagoggend by ’n motorhandelaar in Sinoville plaasgevind, amper dieselfde tyd toe ’n tweede besigheid in die omgewing beroof is.
Volgens polisiewoordvoerder Mirna von Benecke het twee verdagtes op ’n werknemer by A-Z motors in Sefako Makgathorylaan geskiet tydens ’n roof. Hulle het die werknemer eers in die kantoor vasgebind, maar hy het losgekom nadat hulle uit die kantoor geloop het. Die rowers, wat nog op die perseel was, het op die werknemer geskiet toe hy by die kantoor uitstap.
Die verdagtes het in ’n Golf 7 en Toyota Hilux en met die werknemer se persoonlike besittings soos sy selfoon en beursie gevlug.
Niemand is in die voorval beseer nie.
Die voertuie is onderskeidelik later die dag in Eersterust en Alexandra gevind.
Sake van gewapende roof, diefstal van motorvoertuie en poging tot moord is geopen.
Terselfde tyd, het ’n roof by Telkom in Kolonade Retail Park plaasgevind waar vier mans ingestap het terwyl een buite gewag het. “Volgens die personeel in die winkel het hulle slegs een handwapen gesien,” het Von Benecke gesê.
Drie van die mans het ’n werknemer na die stoorkamer geneem en ongeveer R150 000 se skootrekenaars en selfone gebuit.
Die rowers het in ’n Nissan Navara gevlug. “Niemand is beseer nie, maar die werknemers was erg getraumatiseerd na die voorval,” het Von Benecke gesê.
’n Saak van gewapende roof is by die polisie geopen wat ondersoek sal word.
“Besigheidseienaars word gemaan om die nodige sekuriteitsmaatreëls in plek te stel om werknemers te beskerm teen rowers. Tweedehandse motorhandelaars moet voertuigsleutels toesluit en probeer om nie groot bedrae geld op die besigheidsperseel aan te hou nie. Verskeie voorvalle is ook al aangemeld van mense wat vermoedelik van die bank gevolg word nadat hulle geld by OTMe getrek het om lone te betaal of voertuie kontant te koop. Mense moet op hul hoede wees vir enige voertuie of mense wat verdag voorkom of hulle volg,” het Von Benecke gesê.
