CrimeNews

Vier klaskamers in brand beskadig

Polisie is op soek na man wat skool aan die brand steek.

Laerskool Stephanus Roos was onlangs die teiken van vandalisme toe ’n persoon vier klaskamers en ’n pakkamer by die skool aan die brand gesteek het.

Volgens polisiewoordvoerder, Mirna Von Benecke, is ’n blanke man op die beeldmateriaal van 1 Mei by die skool as die brandstigter geïdentifiseer .

“Sommige van die klaskamers kan weer gebruik word, maar eers nadat die vensters vervang en dit deeglik skoongemaak is weens roetskade,” het Von Benecke gesê.

“Die pakkamer en aangrensende hulpklaskamer is die ergste deur die brand geraak. Stukkende vensters en roet is egter nie die enigste probleem nie. Die struktuur van hierdie twee lokale is erg beskadig en is tans onveilig vir gebruik.”

Von Benecke het gesê die brandstigter het baie leerlinge hul reg op onderwys ontneem aangesien baie boeke en ander opvoedkundige materiaal deur die vlamme en/of water beskadig is. “Dan word daar nie eers gepraat van die emosionele impak wat die brandstigting op die skool se leerlinge en onderwysers het nie,” het Von Benecke bygevoeg.

Op die beeldmateriaal wat tans deur die polisie onder oë geneem word, is daar bewyse van voertuie wat verby die skool ten tye van die brand ry. Die polisie doen ’n beroep op die publiek om na vore te kom met inligting wat kan lei tot die suksesvolle vervolging van die skuldige.

Enige persoon met inligting kan die Sinoville polisie by 012-543-8800 of vir Sersant Malebana by 012-543-0800 bel.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button