Polisieman stuit inbraak by sy eie huis
’n Op en wakker polisiebeampte wat van diens af was het ’n poging tot huisbraak gestuit. Die verdagtes is nog op vrye voet.

Drie verdagtes is steeds op vrye voet nadat hulle by ’n polisieman, wat nie aandiens was nie, se huis in East Lynne probeer inbreek het.
Die poging tot inbraak het omstreeks 15:00 Woensdag op die hoek van Swaanstraat en Troupantlaan plaasgevind. Volgens kolonel Lerato Mashigo van die Villieria-polisie het die verdagtes aan die huisdeur gepeuter terwyl die polisieman geslaap het.
“Hy het van die geluid wakker geskrik en ondersoek ingestel. Hy het twee mans by die deur opgemerk en ’n ander in ’n ou witterige Jetta 1. Toe hulle hom sien het hulle ’n vuurwapen op hom gerig en oorgehaal,” het sy gesê.
Hy het dadelik gehardloop om sy eie vuurwapen te kry en hulle agterna gesit. Die verdagtes het twee skote in sy rigting afgevuur, maar niemand was tydens die voorval beseer nie.
Die verdagte in die wegkomvoertuig het weggejaag en ’n ent verder die voertuig verlaat terwyl die ander twee te voet gevlug het.
Nog geen arrestasies is uitgevoer nie.
Mashigo het gesê enigeen met inligting moet die Villieria-polisie bel.
