Roofverdagtes op kamera vasgevang
Beeldmateriaal kan polisie help om twee rowers vas te trek.

Die Sinoville-polisie is dringend opsoek na twee mans in verband met die rooftogte by twee ondernemings wat op dieselfde tyd plaasgevind het.
Polisiewoordvoerder Mirna von Benecke het gesê die polisie doen ‘n beroep op die gemeenskap om op die uitkyk te wees vir die twee mans.
Volgens haar is die mans, albei met ‘n netjiese voorkoms, op sekuriteitskameras tydens die rooftogte vasgevang. Sy het bygevoeg dat die mans die polisie van belangrike inligting oor die rooftogte kan voorsien.
Indien inwoners die twee mans sien, moet hulle dadelik vir Kolonel Khanye by 012-543-0800 bel.
Een van die rooftogte het Maandagoggend by ’n motorhandelaar in Sinoville plaasgevind. Twee verdagtes het op ’n werknemer by A-Z Motors in Sefako Makgathorylaan geskiet tydens die rooftog.
Die rowers het die werknemer in die kantoor vasgebind, maar hy het hom losgewoel nadat hulle uit is. Die rowers, wat nog op die perseel was, het op die werknemer geskiet toe hy by die kantoor uitstap. Die verdagtes het in ’n Golf 7 en Toyota Hilux en met die werknemer se persoonlike besittings soos sy selfoon en beursie gevlug. Niemand is in die voorval beseer nie.
Sake van gewapende roof, diefstal van motorvoertuie en poging tot moord is aanhangig gemaak.
Terselfde tyd, het ’n roof by Telkom in die Kolonade Retail Park plaasgevind waar vier mans die perseel betree het terwyl een buite gewag het.
Von Benecke het gesê die personeel van die winkel beweer die rowers het slegs een handwapen gehad.
Drie van die mans het ’n werknemer na die pakkamer geneem en ongeveer R150 000 se skootrekenaars en selfone gebuit.
Die rowers het in ’n Nissan Navara gevlug. Niemand is tydens die voorval beseer nie.
’n Saak van gewapende roof is by die polisie aanhangig gemaak.
Die polisie maan ondernemings om die nodige veiligheidsmaatreëls in plek te stel om werknemers teen rowers te beskerm. Tweedehandse motorhandelaars moet voertuigsleutels toesluit en probeer om nie groot bedrae geld op die perseel te hou nie.
