Die Wonderboompoort-polisie het Maandagmiddag twee kragkabeldiewe vasgetrek en in hegtenis geneem.
Twee adjudant-offisiere van die polisie, Jacques Oosthuizen en Henrich Jansen van Vuuren, is deur ’n oplettende inwoner en gemeenskapsvoorsitter van sektor 2, Pierre Bezuidenhout, van die diefstal in kennis gestel.
Die polisiebeamptes het hul dadelik na die toneel gehaas en die twee verdagtes omstreeks 15:00 in Grovestraat, Mayville vasgetrek.
“Die diewe was besig om die kabels te verwyder, maar weens die vinnige optrede van die polisie en die gemeenskap is hulle in hul spore gestuit. Hulle het ’n gedeelte van die kabels verwyder, maar toe hul terugkeer om die res te kry, het die polisie hulle ingewag,” het adjudant-offisier Wanda Olivier, woordvoerder van die Wonderboompoort-polisie, gesê.
Die twee verdagtes, tussen die ouderdom van 20 en 30, kom oorspronklik van Hammanskraal en Wierdapark respektiewelik.
Kabeldiefstal is die afgelope drie maande ’n groot probleem in beide Wonderboom-Suid en Mayville. Johan Erickson, ’n bekommerde inwoner, en raadslid Elmarlie Linde, het by ’n vorige geleentheid aan Rekord gesê dat die krag soms twee keer per week afgaan weens kragkabeldiefstal.
Linde het ook gesê hulle is besig om verskeie owerhede soos die Tshwane-metropolisie, buurtwagte en polisie bymekaar te kry om werkbare oplossings vir kabeldiefstal te bespreek.
