CrimeNews

Sommige het vermeende ontvoering glo gesien

Gerugte dat 'n 13-jarige meisie onlangs ontvoer is, het die publiek in die war, want niemand kon dit nog met sekerheid bevestig nie.

Ondanks die feit dat niemand nog ‘n 13-jarige meisie as vermis by die polisie aangemeld het nie, is ‘n organisasies tans besig om elke leidraad op te volg om die egtheid van die gerugte te bepaal.

Die woordvoerder van TacSAR, ’n nie-winsgewende organisasie wat hom daarop toespits om vermiste mense op te spoor, het Sondag aan Rekord gesê daar is beslis rede om die gerugte oor die ontvoering ernstig op te neem.

“Weens die sensitiwiteit van die saak kan ons geen verdere inligting verskaf nie,” het die woordvoerder gesê.

Gerugte oor drie mans in ’n silwer Astra wat ’n blonde 13-jarige meisie ontvoer het, het verlede Vrydagaand oor die gemeenskapspolisiëringsfrorm (GPF) se radio’s gekom. Die voorval het glo omstreeks 19:00 naby ’n parkie in Boekenhoutkloofstraat in Booysens plaasgevind.

Sedertien het die nuus soos ’n veldbrand regoor Pretoria versprei. Inwoners van Pretoria het hul bekommernis oor die meisie se veiligheid op sosiale netwerke uitgespreek, maar weens ‘n gebrek aan opvolg- en betroubare inligting het mense skepties begin raak.

‘n Inwoner van Booysens het aan Rekord gesê dat daar mense is wat die meisie gaan soek het nadat die boodskap versprei is.

“Daar is mense wat in die nag, nadat die boodskap uitgestuur is, die meisie gaan soek het. Ek het so ver as Mamelodi, Zandfontein en ‘n plakkerskamp na haar gaan soek. As dit die waarheid is, moet iets gedoen word maar as dit net ‘n wilde gerug is, moet die persoon wat dit versprei het verantwoordelik gehou word,” het Frans Nienaber gesê.

Hy het gesê die GPF moet enige inligting wat deurgegee word eers bevestig voordat hulle dit versprei, want as dit nie die waarheid is nie sal mense nie in die toekoms op soortgelyke boodskappe reageer nie.

Die voorsitter van die Hercules-GPF, Conrad Naudé, het gesê dat hulle probeer sover moontlik om alle inligting te bevestig voordat hulle radioboodskappe uitstuur.

“Die boodskap het van een van die GPF-lede, wat deur ‘n “ooggetuie” oor die voorval ingelig is, gekom. Daar is toe ‘n berig oor die GPF-radio gestuur wat deur ‘n Whatsapp-groep aangestuur is,” het hy gesê.

Naudé het ook gemeld dat die gemeenskap inligting wat deur GPF-lede deurgegee word ernstig kan opneem.

Kolonel Johannes de Villiers, die Hercules-stasiebevelvoerder, het Dinsdag op TacSAR se Facebook-blad bevestig twee verklarings is teen Saterdagmiddag by die Hercules-polisiestasie afgelê.

In een van die verklarings het ‘n ooggetuie beweer dat ’n wit GTI Volkswagen Polo, met twee wit mans, en ’n silwergrys Opel Astra, met drie swart mans, aan weerskante van die pad gestaan het. Volgens die oogetuie het die bestuurder van die Polo uit die voertuig geklim en die blonde meisie, wat op die agterste sitplek gesit het, uitgepluk en met haar na die Astra geloop waar ’n man die bagasieruim oopgehou het. Die voertuie het die toneel in dieselfde rigting verlaat.

Die polisie het egter bevestig dat daar teen 29 Mei nog geen saak van ’n vermiste meisie aangemeld is nie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button