CrimeLocal newsNews

Skool tree op na dwelms gevind is

Hoërskool leerlinge vervolg na dwelmklopjag.

Drie hoërskoolleerlinge sal na verwagting ‘n dissiplinêre verhoor ontvang nadat hulle van dwelmmisbruik aangekla is.

Hoërskool Gerrit Maritz se hoof, Martin Botha, het gesê drie leerlinge van dié skool sal vervolg word nadat een met dwelms betrap is, en twee ander positief vir dwelmgebruik getoets het.

Dit volg nadat die polisie, saam met die Tshwane-metropolisie en die plaaslike RAC (Residents Against Crime), voorheen bekend as die GPF, Vrydagoggend ‘n klopjag by Hoërskool Gerrit Martiz in Pretoria-Noord uitgevoer het.

Die hoof het gesê die leerlinge se ouers is reeds in kennis gestel en hulle is geskors tot en met hul tugverhoor afgehandel is.

Botha het bygevoeg dat die leerlinge wel toegelaat word om eksamen te skryf.

Dagga is tydens die klopjag saam met sigarette gevind. Die hoof het gerugte dat alkohol tydens die klopjag gevind is ten sterktse ontken.

Hy het gesê die polisie het tydens die klopjag vir alle verbode middels getoets en dat meer as die drie leerlinge wel positief getoets het. Maar hy het gesê dat die ander leerlinge mediese bewyse kon voorsien waarom hulle positief getoets het.

Botha het gesê die klopjag is vooraf deur die beheerliggaam van die skool beplan as deel van die skool se anti-afhanklikheidsveldtog. Hy het gesê die departement van onderwys is ook vooraf van die klopjag in kennis gestel.

“Die aksie het deel gevorm van ons veldtog om leerlinge bewus te maak van die negatiewe effek van rook en dwelmgebruik.”

Hy het verder bygevoeg die doel van die klopjag was om Hoërskool Gerrit Maritz skoon te maak van enige vorm van dwelms.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button