Aartappelskil- en rissie-eetkompetisie gewild by mampoerfees.
Die jaarlikse Mampoerfees in Rayton het weer gesorg vir boere sports.
Brandende monde en seer hande het niemand die afgelope naweek gekeer om aan die jaarlikse mampoerfees deel te neem nie.
Die fees, wat by die Willem Prinsloo-landboumuseum in Rayton plaasgevind het, het gesorg vir boerepret en -sport, en natuurlik vir boeremusiek deur die musikante van die ATKV Centurion.
Benewens al die kultuurbedrywighede soos perdry, ossewa-ry, sweep-slaan, broodbak, pap en kaiings-eet en mampoer-proe het die ATKV-orkes musiek gemaak terwyl besoekers entoesiasties aan die aartappelskil- en rissie-eetkompetisie deelgeneem het.
Deelnemers aan die aartappelskilkompetisie kies self ‘n aartappel op die tafel en gebruik almal dieselfde soort mes om dit te skil. Die deelnemer wat na drie minute die langste skil uit die een aartappel skil, word as die wenner aangewys. Volgens Sakkie Kotze, voorsitter van die ATKV Centurion, staan die rekord op 3,21m.
Die rissie-eters het ook vir groot opwinding voor en na die etery gesorg. Die deelnemers kon self uit die rooi en groen rissies op die tafel kies. Die persoon wat die meeste rissies binne 30 sekondes eet, kou en insluk is as die wenner gekroon. Geen vloeistof mag tydens die etery gedrink word nie. Deelnemers wat hul rissies uitspoeg voordat die 30 sekondes verstreke is, word gediskwalifiseer. Kotze het gesê die rekord is 28 rissies wat binne 30 sekondes geëet is.
