CrimeLocal newsNews

Man het hulp nodig

Man het hulp nodig om hospitaal toe te gaan nadat sy voertuig voor die Hercules Clinic gesteel is.

’n 70-jarige man het hulp nodig om hospitaal toe te gaan nadat sy voertuig Dinsdag voor die Hercules-kliniek gesteel is.

Danie Rheeder se voertuig is gesteel op sy eerste besoek aan die kliniek.

“Ek het mense na die kliniek geneem. Dit was my eerste keer daar omdat ek my kankerpille en behandeling by die Tshwane Distrikshospitaal kry. Ek was kort-kort buite om te sien of my voertuig veilig is,” het Rheeder verduidelik.

Toe hy die laaste keer na buite gaan, het die voertuigwag vir hom gesê hy moet ontspan, hy kyk na sy voertuig.

“Toe ek so na 20:00 uit die kliniek kom, vra ek vir hom waar my voertuig is en hy sê toe hy weet nie. Hy het ook gesê daar was vyf mans wat daar rondgeloop het en vir hom gesê hulle doen waarnemings.”

Die mans het glo ook aan die voertuigwag gesê hulle is van die sektorpolisie.

Dit was Rheeder se vierde voertuig wat in Pretoria gesteel is. Hy is baie ongelukkig oor die diefstal van sy voertuie en vra hulp.

Hy moet een keer ’n maand hospitaal toe gaan om sy kankerpille en behandeling te kry.

“Ek vra dat of daar iemand is wat my kan help met vervoer om hospitaal toe te gaan. Ek is ’n pensioenaris en het nie geld nie.”

Al Rheeder se geld, sy huissleutels en persoonlik dinge was in sy voertuig toe dit gesteel is. Hy was baie gelukkig want toe hy die saak by die Hercules-polisie gaan aanmeld, het hy ’n slotmaker daar raakgeloop wat hom gehelp het om in sy huis in te kom.

Rheeder se voertuig was ’n Toyota Corolla, registrasienommer DZP597GP. Hy vra die gemeenskap om hom te help met vervoer na die Tshwane Distrikshospitaal.

As daar mense is wat hom kan help, bel hom by 012-379-5463.

 

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button