CrimeLocal newsNews

Vrou ná vyf weke in Sunnyside gevind

'n Jong vrou van Boschkop, wat vir langer as 'n maand soek was, is onlangs uiteindelik in Sunnyside opgespoor.

Die 24-jarige vrou van Boschkop, wat in April spoorloos verdwyn het, is ná langer as ‘n maand in Sunnyside gevind.

Isabella Borman was vir sowat vyf weke vermis voordat die Sunnyside-polisie haar eindelik opgespoor het.

Hoewel Borman se ma, Ellen, nie veel wou verklap oor waar of in watter toestand Isabella gevind is nie, het sy bevestig dat haar dogter nou veilig tuis is.

“Woorde kan nie beskryf hoe verlig ons is om haar by die huis te hê nie,” het Ellen aan Rekord gesê.

“Al wat ons in hierdie stadium kan sê, is dat dié ‘n baie sensitiewe saak is.”

Volgens Ellen is die Valke by die ondersoek betrek.

Paul Ramaloko, woordvoerder vir die Valke, het egter aan Rekord gesê dat hy nie van dié ondersoek bewus is nie.

Borman se ma het haar laas gesien voor sy saam met ‘n vriend, wat vermoedelik in sy dertigs is, per motorfiets na Cullinan gery het waar hulle die aand gekuier het.

Volgens Ellen was albei onder die invloed van drank en het hulle besluit om by ‘n gastehuis in dié dorpie te oornag. ‘n Argument het glo tussen Borman en die man ontstaan en die Cullinan-polisie het haar by die gastehuis gaan opgelaai ná personeel haar glo hoor skreeu het.

Ellen en haar man, Matt, het aan Rekord vertel hulle het dieselfde aand ‘n oproep van die man ontvang wat gesê het Isabella is deur die Cullinan-polisie na die Boschkop-polisiestasie geneem. Maar by die Boschkop-polisiestasie is daar glo vir Matt gesê die Cullinan-polisie het haar na die Sunnyside-polisiestasie geneem.

Volgens Matt het die Boschkop-polisie vir hulle gesê Isabella is op die hoek van Francis Baard- (voorheen Schoeman) en Wesselsstraat in Arcadia afgelaai omdat sy nie wou huis toe gaan nie.

“Dit maak nie vir ons sin dat sy hulle sou vra om haar Sunnyside toe te neem as sy in Boschkop woon nie,” het Ellen verduidelik.

“Ek verstaan nie hoekom sy vir hulle sou vra om haar in Sunnyside te gaan aflaai nie – sy is ‘n volwasse vrou en dit is nie asof ons vir haar kwaad sou wees as sy onder die invloed van drank hier sou aankom nie,” het Matt gesê.

Die Sunnyside-polisie kon teen druktyd nie bevestig of die saak verder ondersoek word nie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button