Local newsNews

Atleet sterf week ná Comrades

'n Kranige atleet van Waterkloofrif, wat verlede week aan die Comrades-marathon in Durban deelgeneem het, is 'n week later moontlik weens 'n onbekende virusinfeksie dood.

Die gesin van ‘n kranige 39-jarige Pretoriase atleet, wat ‘n week ná die Comrades-marathon raaiselagtig dood is, sal hopenlik binnekort weet wat die rede vir sy skielike ineenstorting was.

Die liggaam van Louis Du Preez, ‘n pa van twee van Waterkloofrif, sal vermoedelik hierdie week van Durban na Pretoria gebring word. ‘n Lykskouing is Dinsdag gehou om die oorsaak van sy dood te bepaal.

Du Preez is Sondagoggend om 02:00 in die St Augustine-hospitaal in Durban dood – byna ‘n week nadat hy die strawwe Comrades aangedurf het.

Hy het kort voor die eindstreep inmekaargesak en ander atlete het hom oorgedra. Du Preez is nogtans binne 11 uur oor die tydmatjie.

Hy is daarna na die hospitaal geneem waar hy in die hoësorgeenheid behandel is. Medici het verskeie toetse vir tropiese siektes gedoen, maar kon steeds nie vasstel wat gebeur het nie.

Volgens Tinus Marais, voorsitter van die Magnolia Road Runners-hardloopklub waarvan Du Preez ‘n lid was, het medici beaam dat hy waarskynlik ‘n virusinfeksie, wat sy organe aangetas het, opgedoen het.

“Hy het goed gelyk en was gesond kort voordat hy weggespring het, maar ná byna 11 ure op die pad was sy liggaam waarskynlik te swak om teen die virus te veg,” het Marais gesê.

Volgens hom het Du Preez, hoewel hy in die hoësorgeenheid opgeneem is, ietwat beter begin lyk en selfs met sy familie gepraat. Hy sou Sondag na ‘n hospitaal in Pretoria oorgeplaas word.

Du Preez het vir die liefdadigheidorganisasie Sudan4Jesus gehardloop om fondse ter ondersteuning van inwoners van Soedan in te samel. Hy was glo een van die top vyf geldinsamelaars. Die organisasie het Maandag op hul blog geskryf hulle is met hartseer, ongeloof en skok oorweldig toe hulle die nuus gehoor het.

Du Preez laat sy vrou, Annalie, en kinders Megan (16) en Ruan (13) agter.

‘n Roudiens word Vrydag vanuit die NG Kerk Moreletapark gehou.

Foto’s met vergunning van Sudan4Jesus en Magnolia Road Runners.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button