CrimeLocal newsNews

Motor tref seun in tref-en-trap-ongeluk

'n Onbekende motoris het 'n 15-jarige raakgery en toe van die ongelukstoneel weggery sonder om te stop en hulp te verleen.

Die ouers van ’n 15-jarige seun wat Dinsdagmiddag deur ‘n voertuig getref is, soek inligting oor die bestuurder en die ongeluk.

Die ongeluk het ongeveer 14:00 op die hoek van Cantonmentsweg en Selbornelaan gebeur.

Steven Cockrell het gesê hy het baie groot geskrik toe die voertuig hom tref. “Ek het die voertuig hoor aankom en uit sy pad probeer spring. Die volgende oomblik het die voertuig my getref en ek het oor die teer geskuur,” het Cockrell gesê.

Cockrell was besig om die besige kruising by Cantonmentsweg oor te steek vanaf die hoek waar die vulstasie is om roomys by die kafee te gaan koop. Cockrell het gesê hy het pligsgetrou gewag tot die verkeersligte vir die motoriste rooi geslaan het voordat hy die pad oorgesteek het.

Net toe Cockrell byna oor die pad was, het hy uit die hoek van sy oog gesien hoe ’n swart voertuig op hom afgejaag kom. Cockrell vermoed dit was ’n swart Renault. Die voertuig het glo oor die rooi lig gery en toe vir Cockrell teen sy sy getref nadat hy uit die pad van die voertuig probeer spring het.

Die motoris het daarna gerem maar geen poging aangewend om vir Cockrell te help nie.

’n Vrou het langs Cockrell in die pad gestop om hom op te help. Cockrell het ligte beserings aan sy regter sy, waar die voertuig hom getref het, opgedoen, asook aan sy regter skouer toe hy oor die teerpad geskuur het nadat hy geval het.

Cockrell het so groot geskrik dat hy nie aanvanklik vir sy ouers van die ongeluk vertel het nie.

Sy ma, Lynette, is briesend dat iemand die vermetelheid het om haar seun raak te ry en dan net weg te ry. “Ek kry sommer koue rillings as

ek dink wat met my seun kón gebeur het. Ek het myself gisteraand aan die slaap gehuil toe ek aan die voorval dink,” het sy aan Rekord vertel.

Ondanks die skok, moes Cockrell die volgende dag ’n wiskunde-eksamen by sy skool aflê.

Die gesin het versoek dat enige persoon met inligting vir Lynette Cockrell by 082-692-0122 bel.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button