Local newsNews

Sirkel of verkeerslig beplan vir Pad van Dood

Beplande sirkel sal Pad van Dood hopenlik veiliger maak.

Die Tshwane-metro wag vir goedkeuring om ‘n sirkel op die hoek van Dr. Swanepoel- en Derdeweg, waar ‘n 18-jarige onlangs sy lewe verloor het, aan te bring.

Hoërskool Montana-leerling, Brandon Fifield, was op pad huis toe saam met ‘n vriend toe sy motorfiets teen ‘n Ford Ranger-bakkie op die hoek van Dr. Swanepoel- en Derdeweg gebots het. Fifield het glo, weens die impak van die botsing, ongeveer 12m deur die lug getrek en is op slag dood. Sy vriend, Jurgens Appel, het die ongeluk oorleef en is na ‘n nabye hospitaal vir behandeling geneem.

Volgens Mirna von Benecke, woordvoerder van die Sinoville-polisie, was dié ongeluk beslis nie die eerste ernstige een in die omgewing nie. “Daar was sedert Januarie 2013 meer as 15 ongelukke waarvan drie noodlottig was. Dit is slegs ongelukke wat in Dr Swanepoelweg, tussen Amandelboom- en Springbokvlaktestraat, gebeur het,” het Von Benecke gesê.

Raadslid Arnold van Niekerk het beaam dat die kruising ‘n probleem is. Van Niekerk het gesê dat die metro reeds geruime tyd beplan om ‘n sirkel by die kruising aan te bring, maar omdat dit ‘n provinsiale pad is, wag die metro vir die provinsie se goedkeuring. “Omdat dit ‘n besige provinsiale pad is, benodig die munisipaliteit die toestemming van die provinsie om die sirkel aan te bring,” het Van Niekerk gesê. Hy het bygevoeg dat hy na die ongeluk weer ‘n skrywe aan die provinsie oor die kwessie gerig het.”Ons gaan ons bes probeer om die kruising vir inwoners veiliger te maak,” het Van Niekerk gesê.

Tania du Preez, ‘n familielid, is baie kwaad omdat die munisipaliteit nog geen poging aangewend het om die pad veiliger te maak nie. “Ek het met die DA gepraat en gaan ‘n petisie deur die ouers, familie en gemeenskap laat teken sodat ‘n sirkel of ‘n verkeerslig by dié gevaarlike kruising aangebring word. Ek gaan hard baklei om die straat ‘n veiliger plek te maak,” het Du Preez gesê.

Fifield se suster, Felicia, is stukkend oor die gebeure. “Ek haat overskillige bestuurders, veral die een wat vir my boetie se dood verantwoordelik was. Ons was baie na aan mekaar en dit is vir my regtig moeilik om vrede te maak met die feit dat hy weg is,” het Felicia gesê. Volgens Felicia is haar ouers nog erg getraumatiseerd en sukkel hulle om die dood van hul enigste seun te verwerk.

Fifield en Appel was minute voor die ongeluk by Kolonnade se McDonalds saam met vriende. Hulle het glo gesels oor hul toekomsplanne en oor wat hulle na hul eksamens sou doen.

Theresa Louw, woordvoerder van Hoërskool Montana, het gesê die hoof, personeel, beheerliggaam en leerlinge is geskok oor die tragiese dood van Brandon Fifield. “Ons is saam met die familie en vriende hartseer en die woorde van bemoediging en vertroosting kom uit die hart,” het Louw, namens die skool, gesê.

Louw het gesê leerlinge het berading ontvang en die departement van onderwys het ook hul hulp in dié verband aangebied.

Brandon se roudiens vind om 14:00 op Vrydag 13 Junie in die Hervormde Kerk Montana in Jan Bandjiesstraat in Montana plaas.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button