CrimeLocal newsNews

‘Help my!’ is prokureur se angsgil oor foon

Prokureur van Waterkloof in oprit van huis beroof en gemartel.

‘n Pretoriase vrou moes na haar prokureursvriendin se angsgille oor die foon luister terwyl drie rowers haar in die oprit van die prokureursfirma by haar huis in Lawleystraat, Waterkloof aangeval en gemartel het.

Ansie Louw sê sy bly steeds haar vriendin van tien jaar, Mariana Pera (48), se gille hoor.

Louw en Pera was Woensdag om 11:25 besig om oor die foon te gesels toe Pera vir haar sê sy dink sy word dopgehou.

“Die volgende oomblik het sy vir my gesê sy word met vuurwapens aangehou en ek het oor die foon gehoor ‘n man sê vir haar sy moet haar Mercedes-Benz se deur oopmaak. Hulle het gedreig om haar te skiet.

Maar sy was baie kalm en het in ‘n rustige stem vir hulle gesê sy sal saamwerk en hulle kan vat wat hulle wil.”

En toe skreeu sy eweskielik: ‘Ansie, help my!’ en ek hoor net haar vreeslike gille en die selfoon sny uit.”

Ek het magteloos gevoel,” het ‘n steeds emosionele Louw Donderdag aan Rekord gesê.

Sy het weer probeer om na Pera se selfoon te bel, maar dit het net bly lui en is daarna afgeskakel.

Na verneem word, het die rowers Pera, met ‘n vuurwapen teen haar kop gedruk, uit die voertuig gepluk. Twee van die mans het haar diamantoorbelle afgeruk en beide haar oorlelle is oopgeskeur.

Een van die skurke het ook glo haar haar ringvinger stukkend gebyt toe hy sukkel om haar trouring af te kry.

“Sy is baie verniel,” het Louw gesê.

Volgens Louw het ‘n ander prokureur by die firma Pera te hulp gesnel, maar een van die mans het haar juwele óók afgeruk.

Die ontvangsdame het glo ook uitgestorm maar weer teruggehardloop en die deur toegedruk nadat een van die rowers ‘n vuurwapen op haar gerig het. Nóg ‘n vrou het die noodknoppie gedruk en die alarm het begin skril.

“En toe slaan hulle Mariana met ‘n vuurwapen oor die kop, gryp haar motorsleutels, handsak en slimfoon en klim rustig in hul voertuig en ry weg.”

“Sy is steeds vreeslik getraumatiseerd,” het Louw vertel.

Pera is in die Little Company of Mary-hospitaal in Brooklyn vir haar beseerde ore, vinger en kop behandel. Sy is Woensdagaand ontslaan en sterk tans by die huis aan.

“Tydens my besoek aan haar het sy vir my gesê ek was die heeltyd haar ‘lifeline’.”

Louw, wat tydens die voorval goed kopgehou het, sê haar eerste gedagte was om die Moot misdaad-Facebookblad oop te maak en Kilnerparksekuriteit, wat altyd flink in die Moot-omgewing optree, se nommer te kry.

“Ek het aangeneem die voorval het by haar kantore in Waterkloof gebeur en het Kilnerparksekuriteit gebel en gevra om die Brooklyn-polisie dadelik na die toneel te ontbied.”

Polisiewoordvoerder Colette Weilbach het die voorval bevestig en gesê die polisie het ‘n soektog na die drie mans geloods. Niemand is nog in hegtenis geneem is nie.

‘n CCTV-video-opname wys hoe Pera voor haar oopswaaihekke stilhou en ‘n wit Huyndai-voertuig agter haar verby ry. Pera ry by die hekke in, om die hoek tot voor die motorhuis. Terwyl die hekke toegaan, draai die rowers om, jaag op die hekke af, stamp dit oop en hou agter haar stil.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button