CrimeLocal newsNews

Kind glo aan leiband by kleuterskool vasgemaak

Ma ontsteld dat haar twee en ’n half jarige kind na bewering aan ’n leiband vasgemaak word en in ’n badkamer toegemaak word wanneer hy stout is.

’n Ma van Centurion beweer haar twee-en-’n-half-jarige seuntjie is glo met ’n leiband by ‘n dagsorgsentrum in Rooihuiskraal vasgemaak.

*Magda Swanepoel het aan Rekord gesê sy is Maandag deur ’n onderwyser by dié dagsorgsentrum ingelig dat ‘n kollega Swanepoel se seun aan ’n leiband vasgemaak het, omdat hy glo té besig is.

Die onderwyser het Swanepoel se seun glo verskeie kere die afgelope drie tot vier weke met ’n diereleiband vasgemaak. Die leiband is aan sy broek vasgehaak of om sy arm gebind.

Dit was glo vir die kind se eie beskerming omdat hy soms verdwyn sodat die onderwyser hom nie kan vind nie.

Die onderwyser het gesê dit het ten minste drie keer per week gebeur.

Swanepoel is Maandag die eerste keer hiervan ingelig. Met Swanepoel se aankoms Dinsdag by die skool het ’n kleuter glo vir haar gesê ‘tannie, ek het gesien hoe hulle hom vasmaak’, het Swanepoel gesê.

Swanepoel wou die saak dadelik met die hoof opneem. Volgens Swanepoel het die hoof aan haar erken dat sy van twee geleenthede weet – sy het na bewering nie geweet dat dit glo byna ’n daaglikse gebeurtenis was nie.

Swanepoel het ook opgemerk dat haar seun nie meer in die donker wil slaap nie. Sy het ook uitgevind dat haar kind in ’n badkamer toegemaak word wanneer hy stout is. Dit het moontlik na vrees vir die donkerte of ’n geslote vertrek gelei.

Dit was egter net die laaste strooi op die kameel se rug. Die vorige week het ’n ander ma haar vierjarige dogtertjie uit dié skool gehaal omdat daar met haar dogter ‘gepeuter’ is. *Sarah Kleynhans het aan Rekord gesê dat haar dogtertjie vir haar vertel het dat ’n klasmaat glo  ’n voorwerp by haar dogter se geslagsdeel opgedruk.

Kleynhans het dit ook dadelik met die hoof opgeneem, maar volgens Kleynhans is daar glo niks gedoen om haar kind te help nie. Volgens Kleynhans het die hoof aan haar gesê dat kinders sommer net praat en ’n mens kan hulle nie altyd glo nie. Kleynhans is van mening dat haar dogter wel die waarheid praat.

“Sy het ongelukkig hierdie gedrag by die huis begin oordra,” het sy gesê.

Volgens ’n kinderberader, Madeleine Fowlds, is die bogenoemde gedrag van die onderwysers in haar oë onaanvaarbaar. “Hierdie gedrag wek onnodige vrees en angs by ‘n kind op. Dit kan later in die kind se lewe tot groter probleme lei en die kind se selfvertroue beïnvloed,” het Fowlds gesê.

Fowlds het voorgestel dat indien die kind woelig is, moet sy gedrag op ander maniere benader word. “’n Mens kan kyk na die kind se voedingstowwe – soms is daar ’n tekort aan ’n sekere voedingstof. Daar is egter baie faktore wat die kind se gedrag beïnvloed, maar meestal is die oplossing so eenvoudig soos om meer liefde en meer aandag aan die kind te gee.”

Volgens Faith Khatom van Child Welfare in Centurion is hierdie gedrag glad nie aanvaarbaar nie en moet dit dadelik by die departement van maatskaplike ontwikkeling aangemeld word.

Die bestuur van die dagsorgsentrum het Donderdag gesê hulle het in hierdie stadium geen kommentaar om te lewer nie.

*Skuilname is gebruik om die identiteit van die ouers en kinders te beskerm.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button