CrimeLocal newsNews

Familie woedend oor moordenaar ontsnap

'n Familie is woedend nadat 'n man, wat vermoedelik deel gehad het in die moord op 'n bejaarde paartjie, onlangs ontsnap het.

“Ons vertrou dat die polisie die man wat Ouma en Oupa koelbloedig doodgeskiet het binnerkort weer agter tralies sal hê.” So het Chyree Jooste (23) gesê na aanleiding van die feit dat een van die moordverdagtes wat by die moord op haar ouma Katrien Jooste (62) en oupa Chris Jooste(63) betrokke was onlangs uit polisie-aanhouding ontsnap het.

Die bejaarde egpaar, wat op ‘n kleinhoewe in Grootvlei gewoon het, was in November 2011 besig om vleis in Shoshanguve Blok A af te lewer toe vyf rowers hulle oorval en geskiet het.

Katrien was vermoedelik besig om ‘n faktuur uit te skryf toe die rowers Chris in die maag en haar daarna onder die linker bors geskiet het. Sy is op die toneel dood, terwyl Chris op pad na die Dr. George Mukhari-hospitaal in Ga-Rankuwa dood is.

Nkomo Romeo Mathebula (33), wat vermoedelik die sneller getrek het wat Chris se lewe geëis het, het in Mei, tydens ‘n ander saak waarvoor hy in die hof verskyn het, uit die Ga-Rankuwa-landdroshof ontsnap.

Mathebula, of Buster soos hy bekend staan, was die laaste van die vyf verdagtes wat in 2011 in verband met die moord in hegtenis geneem is.

“Dit maak my woedend om te dink dat Buster ontsnap het,” het Chyree gesê. Sy het gesê haar familie was verlig toe Buster na ‘n soektog van maande deur die polisie aangekeer is.

Maar dit was ‘n groot terugslag toe hulle hoor hy het ontsnap. “Ek het nooit gedink dat die polisie hom hom so maklik deur hulle vingers sal laat glip nie.”

Chyree het gesê haar familie bid dat Buster gevang word en dat reg en geregtigheid sal geskied. “Hulle skuldigbevinding sal nie vir Ouma en Oupa terugbring nie, maar dit sal verseker dat hulle boet vir wat hulle gedoen het.”

Volgens haar het die staat ‘n sterk saak teen die verdagtes. Sy het bygevoeg dat as Buster nie gevang word nie sal dit die hofverrigtinge vertraag en langer neem vir reg en geregtigheid om te geskied.

Chyree het ook gemeld dat drie jaar verloop het sedert die dood van haar grootouers en dat die familie nog baie na die Jooste-egpaar verlang. “Ouma en Oupa was ‘n belangrike deel van ons lewe gewees. Hulle dood het ‘n groot leemte in ons harte gelaat,” het ‘n hartseer Chyree gesê, terwyl sy haar trane afvee.

Die saak teen die verdagtes sal na verwagting in September in die Pretoria-hooggeregshof voortgesit word.

Enige persoon met inligting oor die ontsnapte kan adjudant-offisier Piet Moeti by 072-286-5404 of Crime Stop by 08600 10111 bel.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button