Die familie van ‘n bejaarde paartjie wat onlangs tydens ‘n gruwelaanval gemartel is, is verpletter.
Jemima Lemmer (81) en Richard (84) is Vrydagoggend op hul kleinhoewe in Shere gemartel. Jemima is op die toneel dood en Richard is in ‘n kritieke toestand in die Wilgershospitaal.
Die kleindogter van die paartjie het op Rekord se webblad geskryf dat haar familie verpletterd is na die voorval.
“Niemand kan verstaan hoeveel hartseer en pyn die aanval my familie veroorsaak het nie,” het die hartseer kleindogter geskryf.
Sy het ook gesê dit is tragies om te dink hoeveel pyn en lyding haar ouma en oupa moes ervaar het.
Die familie wou nie verdere kommentaar lewer nie.
Volgens Boschkoppolisiewoordvoerder, kaptein Marissa van der Merwe, het vier mans dié Lemmeregpaar omstreeks 02:00 in hul huis op hul hoewe in Strubenstraat oorval.
“Die man is met ‘n hamer aangeval en die vrou is met ‘n strykyster gebrand,” het Van der Merwe gesê.
Die rowers het slegs twee selfone en ‘n aktetas gebuit.
Die Boschkoppolisie ondersoek ‘n saak van aanranding en moord.
