Bejaarde herstel na aanval
Vrou sterf, man beseer ná rowers hulle met strykyster en hamer op kleinhoewe martel.

“Ek het as gelowige ons aanvallers reeds vergewe,” het die 84-jarige Richard Lemmer Maandag in sy seun se huis, op dieselfde kleinhoewe waar hy en sy 81-jarige vrou ‘n klipgooi verder in hul eie huis gemartel is, vertel.
Sy vrou Jemima, met wie hy 62 jaar getroud was, is op die toneel dood.
Sy is vasgebind en met ‘n strykyster gemartel toe vier rowers Vrydagoggend om 02:00 hul huis op die kleinhoewe in Strubenstraat, Shere, toegeslaan het.
Richard, wat Vrydag in ‘n kritieke toestand in die Wilgers-hospitaal opgeneem is, is Sondagmiddag ontslaan. Hy is met ‘n hamer teen die kop en in sy gesig geslaan.
Hy het met ‘n gebreekte wangbeen, gekraakte skedel en ‘n potblou oog aan Rekord gesê hy het nie gedink die rowers wil hom of sy vrou seer of dood maak nie.
“Hulle het geglo ons het geld in die huis en wou ons verplig om dit vir hulle te gee,” het hy verduidelik.
“Maar ek het vir God gevra om vir hulle te gee wat hy vir my en my vrou gegee het – genade.”
Richard sê hy het onmiddellik vir die mans begin bid toe hulle op hom en sy vrou in hul huis toegesak het.
“Ná ons al twee gegil het, het hulle ons op die bed vasgekeer. Ek het kliphard vir hulle gebid. My vrou het my gewaarsku dat hulle my gaan skiet as ek aanhou bid en toe ek my oë oopmaak was daar ‘n pistool teen my kop en messe aan weerskante van my gesig,” het ‘n emosionele Richard vertel.
Die rowers het sy hande aan sy voete vasgebind en Jemima se hande agter haar rug vasgemaak.
Richard het steeds sag bly bid.
“Hulle het haar gevra om hulle te wys waar hulle geld en gewere kan kry en toe sy vir hulle sê sy kan nie meer goed loop nie, het hulle haar deur die gang gesleep.”
Al wat Richard kon doen, was om vir sy vrou te bly bid en te vra dat God haar sal troos.
“En toe Hy vir my sê Hy sal my óók troos het ek geweet sy is weg.”
Richard sê hy het doodstil bly lê en die rowers het waarskynlik gedink hy is dood.
Ná hulle gevlug het, het hy hom losgewikkel en by sy seun Jan gaan hulp soek.
Jan het sy ma op die vloer gesien lê en die nooddienste ontbied.
Volgens Boschkop-polisiewoordvoerder, kaptein Marissa van der Merwe, het die rowers twee selfone en ‘n aktetas gesteel.
‘n Saak van aanranding en moord word ondersoek en niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.
Die Lemmer-egpaar het drie kinders, waarvan een reeds dood is, vyf kleinkinders en een agterkleinkind.
‘n Kleindogter het op Rekord se webblad geskryf: “Niemand kan verstaan hoeveel hartseer en pyn die aanval my familie veroorsaak het nie.” Sy het ook gesê dit is ontstellend om te dink hoeveel pyn en lyding haar ouma en oupa moes ervaar het.
