CrimeLocal newsNews

Hoof erken dat kind aan leiband vasgemaak is

Die hoof van 'n dagsorgsentrum waar ’n onderwyser daarvan beskuldig word dat sy ’n kind aan ’n leiband vasgemaak het, het die versekering gegee dat die sentrum nie die kinders mishandel nie.

Die hoof van ’n kleuterskool en dagsorgsentrum in Rooihuiskraal het bewerings dat ‘n onderwyser by dié skool glo ‘n kind aan ‘n leiband vasgemaak het erken.

Dit volg na ‘n ouer, Caroline Willis, verlede week by ’n onderwyser by dié skool moes hoor dat haar twee en ‘n half jarige seuntjie, Devlin, aan ’n leiband vasgemaak word.

Volgens die onderwyser is die leiband minstens drie keer per week aan die seuntjie se broek vasgehaak of om sy arm gebind omdat hy glo te woelig is. Willis het gesê haar kind het ook skielik begin sukkel om in die aande te slaap en sy vermoed dit is moontlik omdat hy ook soms in ‘n badkamer toegesluit is.

Willis het intussen haar kind uit die skool gehaal weens dié behandeling.

Sy het die saak dadelik met die Elize Strydom, hoof van Orrelpypies-kleuterskool en -naskoolsentrum opgeneem.

Strydom het erken dat Devlin deur ’n onderwyser aan ’n kinderleiband vasgemaak is, maar het gesê dit was vir sy eie beswil.

Strydom het erken dat sy van twee geleenthede weet – sy het na bewering nie geweet dat dit glo byna ’n daaglikse gebeurtenis was nie.

Strydom het Devlin beskryf as ’n ratse, waaghalsige en besige kind vir sy ouderdom en om hierdie rede het die onderwyser dit goed gedink om die bandjie te gebruik om hom te beskerm.

“Hy was geensins aan ’n paal of iets met die bandjie vasgemaak nie en hy het die heeltyd saam met die betrokke onderwyser rondgestap,” het Strydom verseker.

Volgens Strydom is die bandjie kommersieël in babawinkels beskikbaar.

“Die onderwyser het in belang van die kind opgetree om hom teen onnodige en ernstige beserings te beskerm. Die kere wanneer die bandjie gebruik is, was die tuinier besig om takies op die terrein te verrig of was iemand besig om kombuiskaste te installeer,” het Strydom verduidelik.

Strydom het bygevoeg dat Devlin glo nooit aan enige vorm van kindermishandeling onderwerp nie. “Hy is ook nooit, soos beweer word nie, in ’n badkamer toegemaak as hy stout was nie,” het sy gesê.

’n Ander ma het intussen haar vierjarige dogtertjie ook uit dié skool gehaal omdat daar glo met haar dogtertjie ‘gepeuter’ is.

*Sarah Kleynhans het aan Rekord gesê dat haar dogtertjie vir haar vertel het dat ’n klasmaat glo ’n voorwerp by haar dogter se geslagsdeel opgedruk.

Kleynhans het dit ook dadelik met die hoof opgeneem, maar daar glo niks gedoen om haar kind te help nie. Volgens Kleynhans het die hoof aan haar gesê dat kinders sommer net praat en ’n mens kan hulle nie altyd glo nie. Kleynhans is egtervan mening dat haar dogter wel die waarheid praat.

Rakende die aantygings oor molestering, het Strydom gesê sy het dit onder die betrokke ouer se aandag gebring toe dit by haar aangemeld is.

“Die ouer het my verseker dat dit nie gebeur het nie,” het Strydom gesê. Sy het per e-pos met die ouer gekorrespondeer wat die saak aangemeld het, maar geen terugvoer van haar ontvang nie.

Willis het Tshwane-kinderwelsyn gekontak en hulle stel tans ondersoek in om te verseker dat die welstand van die kinders by Orrelpypies aan die Kinderwet voldoen. Die bevindinge van die ondersoek sal bekendgemaak word.

*Skuilnaam is gebruik om die identiteit van die ma en die kind te beskerm.

Volgens Celia Lourens van Tshwane-kinderwelsyn het die voorval by Orrelpypies die belangrikheid van kinders se welsyn opnuut beklemtoon.

Dineo Daly, programbestuurder vir risiko-assessering by Tshwane-kinderwelsyn, het gesê: “Alle kinders verdien ingevolge die Kinderwet ten alle tye goeie sorg in ’n veilige omgewing. Dit is ons verantwoordelikheid om te verseker dat alle kinders koestering ervaar.”

Willis het Tshwane-kinderwelsyn gekontak en hulle stel tans ondersoek in om te verseker dat die welstand van die kinders by Orrelpypies aan die Kinderwet voldoen. ”Waar beweerde voorvalle openbaar gemaak word, word al die partye aangemoedig om die korrekte prosedure vir verdere ondersoek te volg,” het Lourens gesê.

Die bevindinge van die ondersoek sal bekendgemaak word.

Die leiband waarmee
Die leiband waarmee Devlin vermoedelik vasgemaak is.

”Ons nooi die publiek uit en moedig hulle aan om die stem vir kinders te wees deur die naaste kinderwelsynsorganisasie te kontak indien enige vorm van kindermishandeling vermoed word,” het Lourens gesê.

Kontakbesonderhede: Celia Lourens by 072-840-1433 of 012-460-9236 (tydens kantoorure).

Lees die vorige berig hier:

Kind glo aan leiband by kleuterskool vasgemaak

 

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button