Hooters-dief vas
'n Verdagte, wat vermoedelik by die diefstal by die Hooters-restaurant betrokke was, is Saterdag vasgetrek.
Die Garsfontein-polisie soek nog na vier verdagtes wat onlangs by ‘n inbraak by ‘n bekende restaurant in die Wilgers betrokke was.
Volgens polisiewoordvoerder, adjudant-offisier Dave Miller, is een van die vyf mans wat vermoedelik by dié inbraak betrokke was Saterdag deur die polisie vasgetrek.
“Die verdagte het Maandag in die landdroshof verskyn en sal by die Garsfontein-polisiestasie in aanhouding bly terwyl die saak verder ondersoek word,” het Miller aan Rekord gesê.
Die vermeende diewe het glo voorverlede Maandag in die vroeë oggendure op die Hooters-restaurant, wat vroeg in Desember verlede jaar by die Willows Crossing op die hoek van Simon Vermooten- en Rossouwstraat geopen het, toegesak.
Die diewe het glo toegang tot die restaurant verkry deur die voordeur oop te breek.
‘n Aantal platskerm-TV’s, wat teen die mure gehang het, is gebuit. Miller kon Woensdag nie bevestig hoeveel TV’s gesteel is nie.
