Tiener dood ná jaagtog
Een dood en vier op vrye voet ná 'n wilde jaagtog deur die strate van Eersterust

’n 19-jarige leerlingvan Eersterust Sekondêr, Levante du Plessis, is Woensdagaand tydens ’n jaagtog doodgeskiet.
Volgens Moses Dlamini van die onafhanklike polisie-ondersoekdirektoraat het vyf vermeende kapers ’n vrou se voertuig omstreeks 20:30 in Eersterust probeer kaap.
Die vermeende kapers het die vrou uit haar voertuig geruk waarna sy die Eersterust-polisie se hulp ontbied het.
Die polisie het die gekaapte voertuig agternagesit en alle hel het losgebars. Skote is heen en weer tussen die polisie en die vermeende kapers geskiet en een van hulle is doodgeskiet.
“Drie van die verdagtes het in ’n wegkomvoertuig gevlug terwyl die vierdie een te voet gevlug het,” het Dlamini gesê.
Hy het gesê die ondersoek na die voorval duur voort.
William Louw, hoof van Eersterust Sekondêr, het Donderdagmiddag bevestig dat een van die skool se leerlinge op Woensdagaand dood is, maar kon nie besonderhede verskaf nie. Hy het wel, namens die skool, sy meegevoel teenoor die familie uitgespreek.
“Levante was ’n stil en teruggetrokke seun. Op sy plek en netjies. Ons bid vir sy familie,” het hy gesê.
