Rowers skiet sekuriteitsman in Hatfield-rooftog
'n Sekuriteitsbeampte is in die bobeen geskiet toe hy sewe vermeende rowers in Hatfield agterna gesit het.

‘n Sekuriteitsbeampte is Donderdagaand in Hatfield geskiet toe sewe gewapende mans op ‘n Telkom-winkel in Burnettstraat toegesak het.
Die man, wat vermoedelik by die G4S-sekuriteitsmaatskappy werksaam is, is in die bobeen gewond toe die vermeende rowers omstreeks 18:00 van die toneel probeer vlug en hy hulle agterna gesit het.
Verbygangers wat die skietvoorval aanskou het, het na paramedici, wat per toeval in die omgewing was, om hulp gehardloop.
Lifemed-ambulansdienste se woordvoerder, Frikkie Gous, het gesê die man is na ‘n nabygeleë hospitaal gehaas. Hy is in ‘n stabiele toestand en buite gevaar.
Polisiewoordvoerder, Dave Miller, het Vrydag aan Rekord gesê dat twee verdagtes in ‘n gesamentlike poging deur die gemeenskap, polisie en metropolisie vasgetrek is. Die ander vyf is nog op vrye voet.
Hulle het niks gesteel nie.
“Die polisie ondersoek die saak en meer arrestasies kan binnekort verwag word,” het Miller gesê.
Die sekuriteitsbeampte se naam is nie bekend nie en G4S kon nog nie bevestig of die man wel in hulle diens is nie.
