CrimeNews

GPF se waaksaamheid lei tot arrestasie van twee verdagtes

Verskeie GPF-lede tesame met sekuriteitsmaatskappye het ingetree om vir ure lank na twee verdagtes te soek.

Twee verdagtes is vroeg Sondagoggend deur op en wakker-lede van die Brooklyn-sektor 4- gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) in Monument Park in samewerking met die polisie gearresteer.

Volgens Trish Scheepers, operasionele bestuurder van die Brooklyn-sektor 4-GPF, het twee verdagtes Saterdagaand om 23:16 probeer om by ’n kompleks in te breek.

Een van die GPF-lede het per tweerigtingradio laat weet hy het twee mans opgemerk wat besig was om ysters van ‘n heining af te breek om toegang tot die kompleks te kry. GPF-lede, wat in die omgewing gepatrolleer het, het gaan ondersoek instel en bevestig dat hulle die twee verdagtes in die veld sien hardloop het.

Die Brooklyn-polisie, die polisie se honde-eenheid en ander GPF-lede was binne enkele minute op die toneel om die verdagtes agterna te sit.

Volgens Scheepers het hulle die verdagtes in die veld agter die kompleks gesien hardloop. “Ons het die stuk veld van ongeveer drie hektaar afgesper en ligte daarop geskyn. Die verdagtes het plat in die gras gaan lê wat dit moeilik gemaak het om hulle te sien,” het Scheepers gesê.

Daarna is die honde-eenheid ingestuur om die verdagtes uit te snuffel. Die verdagtes het uit die veld gevlug en oor die R21-hoofweg na Monumentpark-uitbreiding gehardloop waar hulle van erf na erf oor heinings gespring het.

Die polisie en GPF het begin om die hele gebied te patrolleer. Makoustraat en die hoofweg is gesluit om te verseker dat die verdagtes nie ontsnap nie.

Na ‘n soektog van ongeveer drie uur is die eerste verdagte in ’n erf in Windswawelstraat gevind.

Ongeveer tien minute later is die tweede verdagte vasgetrek. “Ons het ’n alarm in Piet-my-vroustraat hoor afgaan en dadelik daarop gereageer. Ons het die erf binnegegaan en die verdagte het in ons vasgehardloop,” het ‘n GPF-lid gesê.

Huisbraaktoerusting is by die verdagtes gevind en ‘n wapen is ook in Windswawelstraat gevind.

Die verdagtes het Maandag in die Pretoria-landdroshof verskyn.

Volgens Scheepers het die Brooklyn-sektor 4 se GPF het ook verlede Donderdag ‘n suksesvolle arrestasie in Waterkloof gedoen. Hulle het ‘n verdagte wat by twee verskillende huise ingebreek het, vasgetrek. By die eerste huis in Lionweg het die verdagte tuingereedskap gesteel, maar het die toerusting laat val toe die eienaar hom agterna gesit het. Die verdagte het toe by ‘n tweede huis in Skilpadstraat ingebreek. Hy het ‘n fiets gesteel en daarop probeer vlug, maar die GPF het hom in Delphinusstraat vasgetrek.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button