CrimeLocal newsNews

Gewapende kapers steeds soek

Drie gewapende verdagtes het van die toneel gevlug nadat hulle glo ’n man en sy vrou in hul voertuig aangehou het.

Drie gewapende mans het glo te voet oor die R21-hoofweg gevlug nadat hulle glo ‘n man se voertuig probeer kaap het. Sy vrou en kind was ook in die voertuig.

Volgens André Kitshoff, ondervoorsitter van die Lytteltonsektor 3-gemeenskapspolisiëringsforum, het die drie verdagtes in ’n swart Honda Sondagmiddag in Viewstraat, Elarduspark ‘n swart Mitsubishi Pajero van die pad gedruk.

Die mans het uit hul voertuig geklim en hul wapens op die bestuurder en sy vrou gerig. Die egpaar se kind was ook in die voertuig.

“Die vrou is uit die voertuig geruk en die man het die wapen wat op hom gerig is, weggeklap en weggejaag,” het Kitshoff gesê.

Nadat die man besef het sy vrou is nie meer in die voertuig nie, het hy omgedraai en in die verdagtes se voertuig vasgery. Met die impak het die Pajero op sy dak beland.

“Die rowers het oor die R21-hoofweg in die rigting van Pierre van Ryneveld weggehardloop,” het Kitshoff gesê.

’n Wapen is in die verdagtes se voertuig gevind. Hulle het na bewering die ander wapens saam met hulle geneem.

Die polisie was binne enkele minute op die toneel en het na die verdagtes in die veld begin soek.

Volgens Kitshoff is daar bloedspatsels in die verdagtes se voertuig gevind en die bestuurder van die Pajero is ook beseer.

Die verdagtes het glo in ‘n gesteelde voertuig gery.

Twee van die rowers het pienk hemde en een van hulle het ’n swart hemp gedra.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button