CrimeNews

Kind met asma glo in winkel aangehou

Ma in hegtenis geneem vir bedrog nadat haar kind na bewering met ’n gesteelde kaart goedere by bekende kettingwinkel wou koop.

’n Kind wat aan asma ly is na bewering in ’n bekende kettingwinkel in Lyttelton aangehou nadat sy glo met ’n gesteelde kaart wou betaal.

Volgens ’n ooggetuie, Wohn Steele, het ’n vrou Sondagaand op Zello-toepassing aangedui dat ’n negejarige dogtertjie in Woolworths in Jeanlaan aangehou word.

Steele het dadelik na die toneel gegaan en gesien dat die kind in die winkel toegemaak is en die ma buite staan, histeries dat haar kind toegesluit is.

Volgens Steele het verskeie ooggetuies gesien hoe ‘n sekuriteitswag die kind rondstamp.

Barend Swanepoel, wat ook op die toneel was, het gesê die ma het gesê haar kind het asma. “Die kind het kort van asem geword en die sekuriteitswag het haar ‘n bottel water aangebied,” het Swanepoel aan Rekord gesê.

Volgens Steele het die ma gesê sy het die kind gestuur om goedere by die winkel met ’n Woolworths-kaart te koop terwyl sy met haar siek kind in die kar wag.

Toe die kind by die kassier met die kaart wou betaal, het die kassier glo opgemerk dat die kaart nie aan die kind behoort nie. Die kaart was in die naam van swart vrou se naam geregistreer en die kind was wit.

Volgens Woolworths het hulle die eienaar van die kaart gebel. Sy het glo erken dat dit haar kaart is, maar kon nie verduidelik hoe die kaart in die kind se hande beland het nie.

Die pa van die kinders het glo intussen by die winkel opgedaag en die kinders huis toe geneem.

Polisiewoordvoerder, adjudant-offisier Hero Gumbu, het gesê die eienaar van die kaart was op die toneel met haar ID-boek om te bevestig die kaart behoort aan haar.

Die polisie is ontbied om die ma te arresteer. Gumbu het bevestig ’n saak van bedrog is teen die ma by die Lyttelton-polisiestasie aanhangig gemaak en sy het Maandag in die hof verskyn.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button