Twee vir dagga aangekeer
Goeie samewerking tussen rolspelers het gesorg dat twee weens die besit van dagga in hegtenis geneem is.

Goeie spanwerk het weereens goeie vrugte opgelewer.
Twee verdagtes, ’n man en vrou, is omstreeks 19:00 verlede Vrydagaand weens die besit van dagga in hegtenis geneem.
Volgens Clinton Sulter van BMWcid het hy ’n vrou in ’n oop stuk veld tussen Terblanche- en Nico Smithstraat hoor gil.
Hy het ondersoek gaan instel en gesien hoe ’n man van ‘n vrou af weghardloop. Hy het ’n rooi sak in sy hande gehad.
“Ek het die man agterna gesit en vasgetrek. Hy het beken dat die sak vol dagga is. Kilnerpark-sekuriteit het ook opgedaag om hulp verleen,” het Sulter gesê.
Volgens Sulter het die verdagtes bevestig dat die dwelms in die middestad gekoop is.
Die Villieria-polisie is ontbied en die sak is deursoek. Dagga en vuurhoutjieboksies is gevind.
Die man en vrou is vir die besit van dwelms in hegtenis geneem.
Sulter het almal vir hul hulp bedank: “Ek bedank graag almal vir hulle vinnige optrede met die arrestasie. Die samewerking word opreg waardeer. Saam kan ons die Moot-omgewing ’n veilige plek maak,” het Sulter gesê.
