
‘n Brawe paartjie wat siek en sat vir rowers is wat hul buurt teister het onlangs in ‘n adrenalien belaaide jaagtog die polisie gehelp om ‘n rower plat te trek.
Gert Robbertze en sy goeie vriendin Tina Santon wat in ‘n woonstelkompleks in Magalieskruin woon, het Dinsdagmiddag vir meer as twee kilometer agter ‘n boef aangejaag voordat Robbertze hom in ‘n veld gevang het met ‘n ‘hengse rugbyduik’.
Robbertze, wat ‘n groot man is, het gesê sy spiere was na die voorval seer.
“Ek weet nie waar ek die krag gekry het om hom te jaag nie, maar my adrenalien het ingeskop en ek het net gedink as ek hom vandag deur my vingers laat glip sal hy miskien die volgende dag iemand anders besteel of beseer,” het hy gesê.
Robbertze het verduidelik hoe hul woonstelkompleks vir meer as ‘n maand deur rowers geteister is.
“Die rowers het toegang tot die woonstelkompleks gekry en ‘n inwoner besteel en het weggekom met elektroniese toerusting, beddegoed en sy peperduur bakkie.”
Hy het ‘n gesê hulle het via video-opname gesien wat wys hoe die rowers die ogie van die elektroniese hek toeplak wat maak dat die hek nie toemaak, toe ‘n inwoner by die kompleks uitry nie.
Die kompleks het daarna nog twee gevalle gehad waar rowers inwoners se besittings gesteel het.
Robbertze en Santon het Dinsdagmiddag twee mans gewaar wat lyk of hulle dieselfde doen by ‘n woonstelblok langs hulle.
Hy het dadelik die polisie gebel en die twee mans dopgehou.
Toe die mans die polisievoertuig sien aankom het hulle skoonskip gemaak, waarna die paartjie hulle met hul sportvoertuig agterna gesit het.
Santon het gesê dit het gevoel soos iets uit ‘n aksierolprent. Die polisie het een gevang terwyl die paartjie die ander man agterna gesit het.
Robbertze het uit die voertuig gespring en die man gejaag en moes selfs oor mure spring om op sy spoor te bly. Santon het agterna gevolg.
Meer as twee kilometer van hul woonstelkompleks het Robbertze die man in ‘n veld ingehaal en hom teen die grond geduik.
“Ons het vir ‘n ruk lank gestoei maar ek het toe sy arm om sy nek gedraai en hom teen die grond vas gedruk.”
Die polisie het hom daar gearresteer.
Albei mans is vir diefstal gearresteer.
Robbertze het gesê hy het nie daaraan gedink dat sy lewe dalk in gevaar kon wees nie.
“Ons almal is net so moedeloos vir misdaad en daarom het my instink ingeskop.”

