CrimeLocal newsNews

Kaping deur dapper optrede gestuit

Moot-weldoener slaan motorruit stukkend om kaping te stuit.

Met bonatuurlike krag het Jaque Davenport gesorg dat ‘n vermeende kaper in sy spore gestuit word.

Sy reddingspoging het gekom nadat drie kapers ‘n 86-jarige man, Willie Booysen, se ou BMW voor Real Realtors in 34ste Laan, Waverley, Dinsdagmiddag wou kaap.

“Ek het ons ontvangsdame hoor gil en dadelik uitgehardloop. Die oom het op die grond gelê en die verdagtes was reeds in sy motor gewees,” het Davenport, ’n werknemer by Real Realtors, gesê.

Hy het die deur probeer oopmaak, maar dit was gesluit. Hy het daarna ‘n motorruit met sy vuis stukkend geslaan en een van die verdagtes om die keel gegryp. Die ander verdagtes het uit die motor gespring en te voet gevlug.

Intussen het Paul Ras, ook ’n werknemer by Real Realtors, hom te hulp gesnel in ’n poging om die een verdagte op die grond vas te druk.

“Dit het drie mans gekos om een verdagte vas te druk. Hy was vreeslik sterk en het baklei om te ontsnap. Gelukkig het hy nie daarin geslaag nie,” het Ras gesê.

Booysen het gesê hy het dadelik besef hy word aangeval toe die twee mans hom nader. Hy het om hulp geroep maar voordat hy hom kon kry, het hy op die grond gelê. Hy het wel daarin geslaag om een van die verdagtes se been vas te gryp maar het sy hand in die voorval beseer.

Davenport het verskeie snywonde aan beide sy arms opgedoen toe hy die ruit uitgeslaan het. Verder is hy ongedeerd.

Kilnerparksekuriteit en Villieria-polisie is na die toneel ontbied.

Die ander twee verdagtes is steeds op vrye voet.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button