
Drie gewapende rowers het hul Moses teëgekom toe parate bure ’n stokkie voor hul planne gesteek het.
Volgens Klaas van der Kooi, eienaar van Kilnerpark-sekuriteit, het hulle Vrydagmiddag omstreeks 12:00, ’n oproep van bekommerde inwoners in Dormerlaan, Queenswood, ontvang oor ’n huisroof wat aan die gang was.
“Ons het ’n reaksievoertuig gestuur en daar was ook gemeenskapslede wat ’n helpende hand bygesit het. Op aankoms het die reaksiebeampte agter ’n silwer A6 Audi gestop wat die verdagtes as ’n wegkomvoertuig wou gebruik. Die voertuig was binne die erf,” het Van der Kooi gesê.
Hy het gesê die drie verdagtes het die huishulp vasgebind en was besig om waardevolle items te soek toe hulle op die toneel kom.
“Die verdagtes het uit die huis gekom en ’n gesteelde vuurwapen op die reaksiebeampte gerig. Die verdagtes het daarna te voet spore gemaak waarna die gemeenskapslede slegs twee van die drie verdagtes kon vastrek,” het hy gesê.
Die A6 Audi is glo tydens ’n vorige huisroof gesteel.
Adjudant-offisier Marinda Austin, woordvoerder van die Villieria-polisiestasie, het bevestig die twee verdagtes, tussen die ouderdom van 20 en 25, word op aanklagte van huisroof, diefstal van ’n motorvoertuig, die besit van ’n ongelisensieërde vuurwapen en ammunisie, die besit van gesteelde eiendom en vir die besit van huisbreekgereedskap aangehou.
Die MonAmi Trauma Troops is ook na die toneel ontbied waar hulle die die huishulp traumaberading gegee het.
