Man betrap twee in erf
'n Moot-inwoner het twee verdagtes wat in sy erf rondgesluip het op ‘n CCTV-kamera vasgevang.

’n Video-opname wys hoe twee verdagtes Saterdagoggend om 03:15 oor ‘n muur klim en stil-stil deur ’n Moot-inwoner se motorhek glip.
Dié video, wat op ‘n CCTV-kamera by Johan van Eeden se huis vasgevang is, wys hoe twee mans in sy erf in 31ste Laan wegkruip nadat hulle by Van Eeden se buurman se huis probeer inbreek het.
Volgens hom het die verdagtes toegang tot sy buurman se erf verkry deur sy (Van Eeden) se elektriese motorhek van sy spoor af te lig en deur ‘n opening in die hek te glip.
Die verdagtes het oor Van Eeden se muur tot in die buurman se erf geklim toe hulle in die alarm se sensorligte buite vasgeloop het.
“Die alarm het afgegaan en die mans het terug in my erf geklim en hier kom wegkruip.
“Hulle het deur die motorhek, waar hulle ingekom het, gevlug toe hulle sien dit is veilig om dit te doen,” het Van Eeden gesê.
Hy het die oop hek gesien en dadelik die Moot-sekuriteit ontbied.
Volgens hom het een van die verdagtes ‘n groen sweetpakbaadjie gedra.
Die verdagtes het niks gesteel nie en Van Eeden het nie ‘n saak by die polisie aanhangig gemaak nie.
Hy het aan Rekord gesê dit is belangrik dat mense sensorligte en kameras vir veiligheidsdoeleindes het.
