CrimeLocal newsNews

Oordrom beskadig ná aanranding

'n Man se oordrom is die afgelope naweek beskadig nadat vier mans hom aangerand het.

‘n Man van Doornpoort is steeds in skok nadat hy die afgelope naweek langs ‘n besige pad in die noorde van Pretoria erg aangerand en sy oordrom beskadig is.

Devon Souris van Doornpoort het Saterdagoggend vir sy eie, en sy vrou, Bonita se lewe gevrees nadat die groep mans in ‘n silver Audi sonder rede op hom geskree en tekens begin wys het. Die beledigings het Souris uit benoudheid in ‘n ander motor laat vasgery waarna die mans uitgespring en hom erg begin aanrand het.

Volgens hom het een van die mans ‘n plastiese bottel na sy voertuig gegooi waarna hy uitgeswaai en die Audi skrams getref het. “Ek was baie angstig en het gevrees vir ons lewens. Ek het besluit om nie te stop nie omdat die mans te agressief was en het om die blok gery om die saak by die Sinoville-polisiestasie aan te meld,” het Souris gesê. Souris het op die hoek van Sefako Makgathorylaan en Avocetstraat ‘n ander vrou se voertuig gestamp en het gestop om te kyk of sy nie beseer is nie. Dit is nadat hy toe uit die voertuig geklim het, dat die vier mans, wat hom agtervolg het, hom skielik omring en aangeval het.

“Een van die mans het my met die plathand op my oor geklap waarna ek byna my balans verloor en bietjie deurmekaar was.”

Souris se grootste vrees was dat hulle sy vrou ook sou aanrand en hy het probeer om die mans, wat hom aanhoudend geslaan het, se aandag af te trek. Twee ander mans het kort daarna op die toneel afgekom en die polisie gebel en die mans weggejaag. Die polisie het die verdagtes op die toneel vasgetrek.

Volgens Souris het die polisie egter nie die mans gearresteer nie en het daarop aangedring dat hy eers by die polisiestasie ‘n saak van aanranding moet open. Die mans is daarna vrygelaat.

‘n Ambulans het Souris na die Netcare Montana-hospitaal geneem waar die dokters hom behandel het en bevestig het dat sy oordrom beskadig is.

Souris het daarna ‘n saak van aanranding by die Sinoville-polisie aanhangig gemaak.

“Dit was ‘n nare ervaring gewees. Ek het die heeltyd gedink ek wil nie op die grond gaan lê nie anders sou hulle my aanhoudend geskop het,” het Souris gesê.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button