Vrou en kinders oor HOP-huis aangerand
‘n Vrou en haar kinders is by 'n Danville HOP-huis aangerand toe hulle probeer het om in een van die huise te trek nadat die raadslid na bewering vir haar gesê sy moet in ‘n vakante huis trek.
‘n Vrou en haar kinders is onlangs erg aangerand nadat hulle by ‘n HOP-huis in Danville wou intrek.
Die raadslid vir wyk 3, Danie Swanepoel, doen ‘n ernstige beroep op inwoners wat op HOP-huise wag om by die Tshwane-metro se behuisingsdepartement te gaan seker maak dat hulle wel op die waglys is nadat die vrou en haar kinders verlede Maandag by een van dié huise aangerand is.
Volgens Swanepoel het Katharina van Staden, wat reeds nege jaar vir ‘n HOP-huis wag, hom genader om te hoor wat haar te doen staan om ‘n huis te kry. Hy het vir van Staden se tante gesê om na die HOP-huise te gaan kyk en vas te stel watter huise vakant is. Sy moes dan na die behuisingsdepartement gaan en vra of sy in een van dié vakante huise kan intrek.
”Ons het ‘n groot probleem met behuising. Ek, as raadslid, is nie seker oor hoe HOP-huise toegeken word nie. Toe van Staden se tante my nader, het ek vir haar gesê sy moet gaan hoor of sy een van die vakante huise kan kry,” het Swanepoel gesê.
Volgens Van Staden is dit egter nie wat gebeur het nie. Sy beweer dat Swanepoel vir haar tannie, Miems Bruwer, gesê het om in een van die vakante huise te trek.
“Ek het probeer om in een van die huise te trek maar ek en my kinders is toe deur lede van die gemeenskap aangerand. Ek en my kinders bly tans by my tante in ‘n huis wat ons met elf ander mense deel. Al wat ek wil hê, is ‘n blyplek vir my en my kinders. Dit was gevolglik vir my ‘n groot skok toe die inwoners van die HOP-huise in Danville my dreig en sê hulle sal nie toelaat dat daar mense in die vakante huise trek nie,” het sy gesê.
Swanepoel het gesê hy kon tot dusver nie 0707enige inligting oor die toewysing van huise by die verteenwoordigers en lede van die behuisingsprojek, wat maandeliks vergader, kry nie.
”Ek weet doodgewoon nie hoe die huise toegeken word nie, en omdat niemand weet wat aangaan nie, veroorsaak dit onnodige spanning,” het Swanepoel gesê.
Van Staden het ook gemeld dat sy reeds verskeie kere by die behuisingdepartement was om te probeer uitvind hoe haar aansoek vorder maar is elke keer in kennis gestel om van vooraf aansoek te doen. Sy glo haar aansoek is nooit op die stelsel geregistreer nie.
”Ek wag al nege jaar vir ‘n huis en moet telkens wéér aansoek doen,” het ‘n ongelukkige Van Staden gesê.
Swanepoel het ook daarop gewys dat daar talle ander behuisingsprojekte in Pretoria is. “Juis omdat daar so baie mense is wat vir HOP-huise wag, moet inwoners gaan seker maak hulle is wel op die behuisingsdepartement se waglys, het hy gesê.
