CrimeMunicipalNews

Metro neem aksie en skors twee amptenare

Tshwane-metro neem stappe teen twee van hul eie.

Twee senior amptenare van die Tshwane-metro het hul in die metro se nuutgevonde onverdraagsaamheid met wanbestuur vasgeloop toe hulle summier geskors is.

Tshilidzi Nemahagala, strategiese uitvoerende direkteur in die stadsbestuurder se kantoor, en Andile Dyakala, hoof finansiële beampte, is weens klagtes van wangedrag, ongehoorsaamheid, intimidasie, teistering en afwesigheid sonder toestemming geskors. Hulle het hul skorsingsbriewe verlede week ontvang.

Volgens Selby Bokaba, woordvoerder van die metro, gaan daar dissiplinêre stappe teen die amptenare geneem word. Hy het gesê die metro streef na ’n aanspreeklike, etiese en suiwer munisipaliteit.

“Ons het ’n onafhanklike ondersoekbeampte aangestel om die saak te ondersoek wat ’n volledige en akkurate verslag ingedien het.”

Hy het gesê Daniel Manganye is tydelik as die strategiese uitvoerende direkteur aangestel en Umar Banda as die hoof finansiële beampte.

Bokaba het gesê die twee amptenare het sewe dae tyd vir formele vertoë en ‘n motivering waarom hulle nie geskors moet word nie. Nadat Jason Ngobeni, munisipale bestuurder, die verslag bestudeer en die aanbevelings geëvalueer het, is daar besluit om met die skorsing voort te gaan.

Dyakala word betrek by ’n tender vir drukkers in ’n forensiese ondersoek terwyl Nemahagala vir klagtes van ongehoorsaamheid, intimidasie, teistering en afwesigheid sonder toestemming in die pekel is

Ngobeni het gesê na deeglike oorweging van die inligting wat aan hom voorgelê is, het hy geen ander keuse gehad as om die twee amptenare te skors tot die dissiplinêre verhore afgehandel is nie.

“Ons wil egter beklemtoon dat die betrokke amptenare onskuldig is totdat die teendeel bewys word,” het hy gesê.

Hy maan dat die stad se beleggers nie deur die skorsing afgeskrik moet word nie, maar eerder vertroue in die stad moet openbaar weens die metro se kredietwaardigheid en bereidwilligheid om stappe te neem, indien nodig.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button