CrimeLocal newsNews

Mayville Mall-ooggetuies deel ervaring

'n Ooggetuie van die Mayville Mall-rooftog is skynbaar geskiet bloot omdat hy net te na aan die wegkomvoertuig gestaan het.

‘n Man van Hermanstad is steeds getraumatiseerd maar gelukkig om met sy lewe daarvan af te kom nadat hy Donderdagmiddag deur gewapende rowers by die Mayville Mall-winkelsentrum in die been geskiet is.

Dit volg nadat ses gewapende rowers Donderdag op die Vodakom Chatz-winkel in dié sentrum toegeslaan het. Justinus Khalame, ‘n konstruksiewerker wat naby die sentrum gewerk het, was besig om na die winkelsentum te stap toe hy skielik gille hoor en sien hoe mense by die sentrum uitgestorm kom.

“Ek het langs ‘n wit bakkie gestaan en kyk na die geharwar toe ek mans met sakke sien aangehardloop kom. Eers toe hulle die sakke in die bakkie gooi en inspring het ek besef ek staan reg langs die wegkommotor. Een van die rowers het na my gewys en gesê ‘skiet hom!’ maar ek was te geskok om te reageer of om te verstaan wat besig was om te gebeur,” het Khalame gesê.

Die rowers het vir Khalame in sy been geskiet voor hulle weggejaag het.

‘n Ander ooggetuie, Steve Triter, was besig om inkopies te doen toe hy skielik mense hoor gil en sien weghardloop.

“Ek het my pakkies neergesit en dadelik gaan ondersoek instel. Dis toe dat ek die mans uit die Vodacom-winkel sien hardloop. ‘n Groep van ons het die mans agternagesit. Hulle het agter op ‘n bakkie gespring en skielik skote in ons rigting afgevuur,” het ‘n geskokte Triter gesê.

Nóg ‘n ooggetuie, Derick van Zyl, was ook in die sentrum toe die eerste skote gevuur is.

“Iemand het geskree om hulle te stop en ek het probeer keer toe ‘n man in ‘n wit baadjie by my verby gehardloop het. Toe ek skote hoor, het ek neergeval. Ek het daarna weer opgespring en uitgehardloop om hulle te probeer stop, maar hulle was toe reeds weg. Dit was ‘n aaklige ondervinding gewees en nie een wat ek ooit weer wil beleef nie,” het Van Zyl gesê.

Volgens Xander Loubser van die Best Care-ambulansdienste is die eienaar van die Vodacom Chatz-winkel oor die kop met ‘n vuurwapen geslaan.

“Die eienaar het ‘n snywond opgedoen. Altwee beseerdes is op die toneel behandel voordat hulle per ambulans na die naaste hospitaal vervoer is,” het Loubser gesê.

Volgens die Mayville Mall-winkelsentrum se woordvoerder, Sarita van Wyk, monitor die sentrum voortdurend hulle sekuriteitsmaatreëls.

“Ons pas die sekuriteitsmaatreëls van die sentrum aan soos dit nodig is, maar ons kan nie op die oomblik veel uitbrei oor nuwe maatreëls nie, aangesien dit vertroulik is,” het Van Wyk gesê.

Die Wonderboompoort-polisie was Donderdag by die sentrum en het die gebied gefynkam vir die verdagtes.

Die polisie kon egter nie vir verdere kommentaar bereik word nie.

Lees ook:

Ses gewapende verdagtes slaan toe op Moot-winkelsentrum

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button