
’n Vermeende inbreker van Capital Park het sy Moses teëgekom toe ’n ontstoke pa hom op sy herrie gegee het.
Die 24-jarige verdagte is ernstig gewond nadat hy helder oordag toegang tot ‘n kind se kamer by ‘n huis in Myburghstraat wou kry.
“Die kind het ’n bohaai opgeskop waarna die pa gereageer en skote afgevuur het,” het kaptein Bonginkosi Msimango, polisiewoordvoerder, gesê.
Volgens Morné Cilliers, ’n ooggetuie, het die verdagte daarin geslaag om twee blokke ver te hardloop en aan sy hek te ruk en pluk. “Ek het uitgehardloop om ondersoek in te stel waarna die man vir my gesê het dat hy van sy selfoon geroof is.”
Cilliers het dadelik onraad vermoed en beide die polisie en ambulansdienste ontbied. Die man is deur die Wonderboompoort-polisie in hegtenis geneem.
Msimango het gesê die gewonde verdagte is onder polisiebewaking na ’n nabygeleë hospitaal vervoer.
