‘n Vrou van Rietfontein is onlangs erg getraumatiseer toe ‘n man haar en haar seun by ‘n Absa OTM in Queenswood gedreig en probeer beroof het.
Antoinette Jacobs het Sondagmiddag om 12:00 vinnig by Absa se tak in Queenswood gestop om geld by die OTM te trek toe ‘n netjies geklede man haar en haar seun nader om hulle glo te help omdat dit lyk asof die masjien haar kaart gesluk het.
“Die man het teen my bly stamp en knoppies op die masjien probeer druk, maar ek het hom weggestamp en gevra dat hy moet loop. Dit is toe dat my kaart uit die masjien kom en hy dit probeer gryp,” het Jacobs gesê.
Sy het gesê sy het die man omgestamp en na haar kaart gegryp. “Hy het gedreig dat hy my met ‘n mes gaan steek en ek het vir hom gesê hy kan maar probeer want ek is nie bang vir hom nie,” het Jacobs gesê.
Volgens Jacobs het die man toe in ‘n wit motor, sonder nommerplate, gespring en weggejaag.
Jacobs en haar seun is nie tydens die voorval beseer nie, maar sy het die volgende dag besef dat haar kaart gekloon is en dat iemand besig is om geld uit haar rekening te trek.
Sy het Maandag na die Villieria-polisiestasie gegaan om die voorval te rapporteer en ‘n klag te lê.
Volgens adjudant-offisier Marinda Austin, woordvoerder van die Villieria-polisiestasie, is ‘n saak van gewone roof geopen aangesien die man nie ‘n wapen by hom gehad het nie.
“Die saak word ondersoek. Dit was ‘n eenmalige geval, maar ons wil die publiek maan om paraat te wees as hulle ‘n OTM gebruik,” het Austin gesê.
