Vier dood, verskeie beseer op Pretoria-paaie
Vier dood en verskeie ander op Pretoria se paaie oor die naweek beseer.
Dit was weer ‘n rowwe naweek op Pretoria se paaie nadat vier mense dood en verskeie ander, insluitende ‘n 8-maande-oue baba, beseer is.
Volgens Xander Loubser, woordvoerder van Best Care-ambulansdienste, het die baba uit sy karstoeltjie geskiet nadat twee voertuie teen mekaar gebots het.
Die ongeluk het Sondagoggend omstreeks 11:00 in Pretoria-Noord plaasgevind.
“Die ma het brandwonde op haar regterarm weens die lugsak opgedoen en die baba het moontlike kopbeserings opgedoen. Albei is na die Eugene Marias-hospitaal gehaas,” het Loubser gesê.
Die passasiers in die ander voertuig het geen beserings opgedoen nie.
Intussen is een persoon dood en vier ander baie ernstig beseer nadat hul voertuie by die Hardey Muller-sirkel in Waverley teen mekaar gebots het. Dit is nog onduidelik wat die oorsaak van die ongeluk was. Lifemed-ambulansdienste het die beseerde pasiënte na ‘n nabygeleë hospitaal gehaas.
Chris Botha, woordvoerder van Netcare911, het gesê dat een persoon dood en ‘n ander baie ernstig beseer is nadat ‘n taxi en ‘n ligte voertuig kop-aan-kop Saterdagaand op Solomon Mahlanguweg in die ooste van Pretoria gebots het.
“Die oorsaak van die ongeluk is tans onseker en sal deur die polisie ondersoek word,” het hy gesê.
Die oorlewende is na die Mamelodi-hospitaal vir verdere mediese behandeling vervoer.
In ‘n tragiese ongeluk Vrydagmiddag omstreeks 15:00 in Van der Hoff-weg is ‘n bejaarde egpaar noodlottig beseer nadat hul voertuig trompop teen ‘n Toyota Hilux gebots het.
Die bestuurder van die Toyota het slegs geringe beserings opgedoen en is na die Bougainville-hospitaal vir mediese behandeling vervoer.



