Jong man in hoësorgeenheid ná ongeluk
'n Jong man is ernstig beseer in 'n ongeluk tussen 'n motorfiets en 'n bakke.
‘n Jong man is tans in die hoësorgeenheid van ‘n hospitaal nadat sy motorfiets Dinsdagmiddag op die hoek van Louis Trichardtstraat en 20ste Laan teen ‘n bakkie gebots het. Morné Reinecke (22) is deur Lifemed-ambulansdienste na die Steve Biko Akademiese-hospitaal geneem.
Reinecke se verloofde, Melinda Zaayman, wat as woordvoerder van die gesin optree aangesien hulle nog baie getraumatiseerd is, het gesê: “Morné is tans in die neurologiese hoësorgeenheid want hy het bloeding op die brein. Ons is nietemin optimisties want hy reageer op handdrukke. Hy kry ook goeie behandeling.” Volgens Zaayman het Reinecke ook sy been in die ongeluk gebreek.
Vir Zaayman se 4-jarige seun, Qu-Aydin, is Reinecke die enigste pa wat hy ken en hy mis Reinecke baie. “Qu-Aydin weet dat Morné in die hospitaal is en dat die dokters na hom omsien omdat hy seergekry het, maar hy besef nie die erns van die saak nie. Volgens hom slaap sy ‘pa’ in die hospitaal tot hy beter is, maar hy mis Morné baie,” het Zaayman gesê.
Melinda se pa, Johnny, is haar steunpilaar in hierdie moeilike tyd. Haar pa is ook ontsteld oor die ongeluk. “Dit is baie hartseer dat dié ongeluk Morné nóú moes getref het want hy het die afgelope tyd hard aan sy toekoms gewerk. Hy en Melinda het beplan om in Desember te trou, maar nou sal ons moet wag en kyk wat gebeur,” het Johnny gesê.
Die bakkie se twee insittendes is nie beseer nie, maar het trauma-berading op die toneel ontvang.
Frikkie Gous, woordvoerder van Lifemed-ambulansdienste, het gesê dat die kruising baie gevaarlik is. “Baie mense onderskat die kruising omdat hulle van mening is dat dit ‘n stil kruising is, maar dit is nie,” het Gous gesê.
Volgens sersant Asnath Melatsi, polisiewoordvoerder, word die ongeluk ondersoek. “Ons ondersoek ‘n saak van roekelose en nalatige bestuur,” het Melatsi gesê.
