Lyke byna ontbind na kragonderbreking
Die Tshwane-metro het sonder enige vooraf waarskuwing die elektriese krag by 'n lykshuis afgeskakel.
Lyke in ‘n private lykhuis in Bronkhorstspruit het in gevaar gestaan om te ontbind omdat die Tshwane-metro, sonder enige vooraf waarskuwing Vrydag verlede week die elektriese krag afgeskakel het. Ondanks die feit dat die maandelikse rekening vol opbetaal was, is die krag eers weer Dinsdagaand aangeskakel.
Frans Gerhardt, eienaar van Martins-begrafnisondernemings, het ‘n vaste skriftelike ooreenkoms met die metro vir die afbetaling van sy oortrokke rekening.
“Die ergste van alles is dat toe die man kom om die krag af te skakel het ek hom die skriftelike bewys gegee wat aandui dat ons die maand se elektrisiteitsrekening asook etlike paar duisend rand meer betaal het, maar net omdat dit skynbaar nog nie op hul state wys nie, sny hulle summier die krag af,” het Gerhardt vertel.
Gerhardt het gesê hulle het ‘n oortrokke elektrisiteitsrekening. Met die hulp van ‘n prokureur is ‘n skriftelike kontrak opgestel waarvolgens die volle maandelikse elektrisiteitsrekening asook dat ‘n bykomende paar duisend rand van die uitstaande bedrag maandeliks betaal word. Die metro het daarmee ingestem.
Vrydag se uit die bloute besoek van die elektrisiteitwerkers van die metro by sy lykhuis het hom onkant betrap.
“Die man het net opgedaag en sonder om enige rede te verskaf, die elektrisiteit afgeskakel. Daar was geen 24 uur kennisgewing hiervan nie. Na ek hom vertel het en die bewys gegee het dat ons betaal het, het hy voortgegaan om die krag af te sny en het hy daarna in sy bakkie geklim en weggery. Nou moet ek op die koop toe nog R610 vir die afsnyery betaal en dit nogal na ek my rekening betaal het.
Van Vrydagaand tot Dinsdagmiddag laat het ek seker 300 oproepe na die metro gemaak in ‘n poging om die krag weer aangeskakel te kry. Bitter weinig van die oproepe is beantwoord. In my lykhuis het ek drie liggame gehad wat in gevaar gestaan het om te ontbind. Ek was verplig om inderhaas ‘n kragopwekker te leen wat ek aangeskakel het om die yskaste koel te hou, maar dié masjien gebruik brandstof teen ‘n ontsaglike spoed. Dus, sodra die yskaste weer koel was, het ek dit afgeskakel en ‘n uur of wat later weer aangeskakel.”
Gerhardt het na sy tevergeefse oproepe na die metro, by Hilda Weber sy wyksraadslid, vir hulp en raad aangeklop.
“Ek het ook verskeie oproepe na die metro gedoen. ‘n Mens kan nie ‘n lykhuis se krag sonder enige voorafkennisgewing afsny nie. Dit kom neer op lykskending om so iets te doen,” het Weber gesê.
Volgens Gerhardt is sy onderneming nie die enigste wat probleme met die metro het met hul kragvoorsiening nie.
“Die probleem wat baie van ons sakeondernemings ondervind is dat dit wil voorkom of daar nie ‘n vaste keerdatum vir die betaling van rekenings bestaan nie. Sommige maande is dit die 26e van die maand en ander kere weer is dit die sesde van die maand. Baie mense wat pligsgetroue betalers is, trap dus in die strik om te laat te betaal, of ‘n dag of wat voor die keerdatum. In so ‘n geval is jy in elk geval in die moeilikheid want al sou jy betyds betaal het, en dit drie dae neem vir die bank om dit op hul stelsel te wys, het hulle klaar jou krag gesny.”
Vir nuusflitse en vele meer besoek ons op Facebook of volg ons op Twitter.
