Local newsMunicipalNews

Minister sê simbole en standbeelde bly

Geen standbeelde en simbole uit die apartheidsera sal verwyder word nie.

Die ewewigtige benadering en versekering van Nathi Mthetwa, die nuwe minister van kuns en kultuur, met die versekering dat geen standbeelde en simbole uit die apartheidsera verwyder sal word nie, is gister deur historici en Afriforum in Pretoria verwelkom.

”Die simbole is deel van ons geskiedenis – deel van ons nasie. Sommige kan ongemaklik voel oor sekere simbole, maar watter nasie gaan ons wees as ons vergeet waar ons vandaan kom?” het Mthetwa aan joernaliste gesê kort voordat sy departement se begrotingsdebat in die parlement begin het.

Mthethwa se verklaring kom nadat ANC-LP’s hul misnoeë in die parlement oor die standbeeld van genl. Louis Botha voor die parlement te kenne gegee het en gesê het dat dit verwyder moet word.

Mthetha het ook verwys na Europese lande wat groot waarde aan hulle historiese simbole heg en dit as deel van burgerlike opvoeding sien. Hy het ook beklemtoon dat die regering met sy projek om ‘n nasie te bou eerder wil konsentreer op dit wat Suid-Afrikaners verenig as dit wat hulle verdeel.

Prof. Fransjohan Pretorius, bekende geskiedskrywer, het Mthethwa se verklaring as die stem van redelikheid bestempel.

”Die feit dat die minister die historiese benadering van geskiedenis uit die hoek van kolonialisme genoem het, is ‘n feit. Maar die impak van kolonialisme is deel van ons geskiedenis, en ook dít moet erken word. Die aankondiging dat daar nie weggedoen sal word met die vorige bedeling se kultuurhistoriese simbole nie word verwelkom want sou ons dit doen, verskaal ons net ons geskiedenis as bestaande uit net goeie en slegte mense. Sy benadering gee ook ander kultuurgroepe ‘n asemskep-geleentheid.

Wat die minister wel uit die oog verloor het, is dat die rol wat swart mense in die geskiedenis gespeel het lank reeds erken word, so ook die besef dat swart mense se lyding in die konsentrasiekampe tydens Anglo Boere-oorlog groter was as die blankes s’n” het Pretorius gesê.

Die minister se siening is ook deur AfriForum verwelkom.

”Ons verwelkom die feit dat die minister gesê het dat geen simbole verwyder sal word nie. Dit is ‘n stap in die regte rigting. Ons sal graag wil sien dat hy dieselfde beginsels toepas met betrekking tot Pretgoria se naam. Pretoria met sy talle standbeelde het ook ‘n besondere kultureel-historiese waarde. Nie net vir mense in Pretoria nie, maar ook vir mense elders in die land. Pogings om Pretoria se naam te wil verander, sal lynreg in botsing wees met sy standpunt,” het Kallie Kriel, uitvoerende voorsitter van AfriForum gesê.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button