Nadat die Tshwane-metro inwoners van Pretoria-Noord sowat twee maande gelede vir ‘n maand met opgespoelde riool in Wesstraat gelaat is, het dit onlangs weer gebeur.
Volgens Ans Hatting het ‘n mangat ‘n week terug liters rioolafval uitgestoot wat voor haar huis opgedam het. Die metro het die mangat kom herstel maar weereens, soos in Mei, die riool agtergelaat. Hatting het bygevoeg die toiletpapier en ander riool is nie net ‘n oogseer nie maar veroorsaak ook ‘n stank.
“Die metro sloer om dit te verwyder met die gevolg dat dit nou reg voor my erf lê en droog word en ook ‘n stank afgee,” het ‘n ontstelde Hatting gesê.
Die inwoners van dieselfde straat moes onlangs meer as ‘n maand wag voordat die metro die uitgedroogte rioolafval, wat uit dieselfde mangat gespoel het, in Mei kom opruim het.
Martie Prinsloo, wat ook in Wesstraat woon, het gesê sy is moedeloos oor die riool wat weereens die hele straat vol lê.
”Die drein het weer oorspoel en die riool lê orals,” het sy gesê.
Prinsloo beweer sy het die metro gekontak maar dat hulle nie van enige hulp was nie.
“Wanneer jy die metro se kantore bel dan hou jy vir ure aan voordat hulle antwoord en belowe hul sal jou terugbel, maar hulle doen dit nooit nie.”
Hatting, wat haar huis uitverhuur, het voorheen aan Rekord gesê sy het al twee loseerders weens die slegte reuk verloor. Sy het ook gesê behalwe vir die reuk is brommers ook ‘n problem weens die riool.
Die metro was teen druktyd nie vir kommentaar beskikbaar nie.
Vir meer nuus, volg ons op Twitter of besoek ons op Facebook.
