Inwoners van Queenswood is raadop met straatligte wat al agt maande lank buite werking is in Wesleystraat.
Matilda Bezuidenhout sê sy probeer noual sedert November verlede jaar om reaksie te kry uit die Tshwane-owerhede om die ligte voor die Suid Afrikaanse Nasionale Bloed Dienste se kantore te herstel.
“Ek het Tshwane-metropolisie menigte kere probeer kontak, al twee keer ‘n verwysingsnommer gekry vir dieselfde probleem en selfs al vir hulle die paalnommers gestuur — maar het tot dusver nog niks van hulle gehoor nie,” sê Bezuidenhout.
Sy sê dat sy al sover gegaan het om op Tshwane-munisipaliteit se webtuiste te gaan navraag doen, maar selfs dit het nie gehelp nie.
Benewens die straatlig-probleem, sê Bezuidenhout, is daar kwelling oor ‘n groot spoedbult wat moeilik sigbaar is in die aand omdat dit nie behoorlik geverf is nie.
“Die hele situasie is ‘n ongeluk wat wag om te gebeur, met die hobbel wat mens nie sien nie wens die straatligte wat buite werking is.”
Roelof Fourie, raadslid van wyk 84, sê hy is bewus van verskeie plekke in die gebied wat al geruime tyd probleme het met straatligte.
“Ek kan dit nie genoeg beklemtoon hoe belangrik dit is om verwysingsnommers te hou vir klagtes wat aangemeld is nie. Volg ook altyd sake op,” sê Fourie.
Tshwane-munisipaliteit was teen spertyd nie beskikbaar vir kommentaar nie.
Volg Rekord op Twitter of ‘like’ ons op Facebook vir meer nuus.
