Local newsMunicipalNews

Kerslig humor in Centurion

’n Afrikaanse musiekvideo oor die gereelde kragonderbreking in Centurion het inwoners laat lê soos hul lag.

Waar daar ’n kersvlammetjie, ’n kitaar en talentvolle kunstenaars is, moet jy maar weet daar gaan defnitief ’n treffer vorendag kom.

NagSKOF, ’n Afrikaanse sanggroep van Centurion, het besluit om die beste van Sondagaand se kragonderbreking in Centurion te maak.

Hulle het koppe bymekaar gesit en hul frustrasie oor die kragonderbrekings in ’n humoristiese musiekvideo omskep.

Die oomblik toe dié musiekvideo die sosiale medianetwerke tref, het dit soos ’n veldbrand versprei.

NagSKOF bestaan uit Izak en Liezel Vorster, Jannie Lategan en JP van Schalkwyk. Die Vorster-egpaar het besluit om die ‘rustige’ kraglose aand as ’n geleentheid aan te gryp en só het die krag-liedjie sy oorsprong gekry.

“Die video was werklik ’n ‘spur-of- the-moment’ liedjie. Ons het besluit aangesien ons nie veel kan doen nie, kan ons iets skryf oor die kragonderbreking. Ons het dalk ’n ‘hidden agenda’ gehad, maar dit het mense laat lag,” het Izak gesê.

Alhoewel die kragonderbreking nie te veel van ’n steurnis vir die Vorster-egpaar is nie, raak dit meer as net lagwekkend as die krag vir vier dae aaneen af is.

“’n Ruk gelede moes ons vir vier dae sonder krag sit. Die eerste kraglose dag was nogal vreemd. ’n Mens is so besig met jou eie dinge dat jy vergeet hoe om met mekaar te praat. Die tweede dag begin jy en jou maat weer kommunikeer. Op die ou einde is dit amper tragies as die krag weer aangaan, maar ek sal ook nie altyd sonder krag kan leef nie. Dit raak kommerwekkend,” het hy gesê.

Sy twee grootste bekommernisse is die kos wat bederf en die alarmstelsel wat nie werk nie.

“Die donkerte skep ’n groot gevaar en dit is die perfekte geleentheid vir kriminele om toe te slaan. Ons hoop om deur dié liedjie humor terug te bring, maar ook om die erns van die saak aan te spreek.”

NagSKOF stel hul debuutalbum Sê wat jy wil sê op 3 Oktober by Firkin, Centurion, vry. Hulle hoop om al hul nuwe aanhangers daar te ontmoet.

Intussen het die kragonderbrekings ook verskeie grappies soos die Rooihuiskraalbob en spotprente op die Centurion Facebook-blad ontlok. Die Rooihuiskraalbob verwys na die Centurion-vrouens wat nie hulle hare in die oggend weens die kragonderbreking kan doen nie.

Vir meer nuus, volg ons op Twitter of besoek ons op Facebook.

Lees ook:

Blackout in large parts of Centurion

Power failure in Valhalla

Power outage on R55

Power restored in Centurion

 

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button