Pendelaars gestrand sonder busse
Menigte klagtes oor busse strand skoolkinders en werkendes.

Tshwane-busse het Maandag talle pendelaars, insluitende skoolkinders, gestrand gelaat weens ‘n brandstoftekort.
Tshwane-metro-woordvoerder Shelby Bokaba het vanoggend verskoning aangeteken en verduidelik dat die busse sonder diesel staan. Volgens Bokaba was daar ‘n oorgangsfout tussen die vorige diensverskaffer en die huidige een.
Magda Simpson, ’n besorgde ouma, het gesê dit gaan egter al vir jare so. Sy kla dat haar kleinseun en sy skoolmaats van hul onderrig weerhou word.
“Die busse het tydens die hele eksamen nie gery nie en ry amper elke ander dag ook nie. My dogter, Shairly, ry dan met haar eie voertuig om haar seun, Alan, en soms tot ses ander van sy skoolmaats by die skool te gaan aflaai,” het Simpson gesê.
Charmaine Smith, ‘n ontvangsdame in Moreletapark, het gesê sy haal daagliks vier busse heen en weer tussen haar huis en werk. Wanneer die busse staan, is sy gestrand. “Dit is baie sleg vir my, ek kan nie by my werk uitkom nie en niemand is daar om my te help nie. Ek voel magteloos,” het Smith gesê.
Volgens René Leonard, ‘n Daspoort-inwoner envoorraadbeheerder van ‘n meubelwinkel in die middestad, haal sy elke dag twee busse heen en weer om te gaan werk. “Die problem is dat ek maandeliks ’n buskaartjie koop wat veronderstel is om my vervoer vir die hele maand te betaal, maar met die busse wat nie werk nie, moet ek dan ekstra geld betaal vir taxi’s. Geld wat ek nie begroot het nie, wat veroorsaak dat my finansies nie vir die maand uitwerk nie”.
Bokaba meen die busse sal van more af gereeld diesel kan kry en daar word verwag dat al die busdienste glad sal loop.
Vir meer nuus, volg ons op Twitter of besoek ons op Facebook.
