Werknemer besteel bejaardes
Twee bejaardes is besteel toe 'n vrou wat glo dringend werk soek tot hul huis toegang gekry het.
‘n Inwoner van East Lynne is erg ontsteld nadat ’n vermeende dief haar met ’n slap riem gevang het.
René Malan het ’n vrou, wat na haarself as Lucy verwys het en glo dringend werk as huishulp gesoek het, gevra om haar vir ‘n dag uit te help by haar ouerhuis in East Lynne.
Malan en haar pa, Christo Goosen, wat ‘n diabeetlyer en rolstoelgebonde is, was op19 Julie die oggend by die huis, toe die vrou glo aangebied het om vir R50 ’n dag enige huiswerk te doen.
“Ek moes bank toe gaan en het haar gevra om die skottelgoed te was, die huis net bietjie netjies te maak en na my pa te kyk terwyl ek gou bank toe gaan,” het Malan gesê.
Malan het die vrou ook gevra om vir haar pa later ’n broodjie te maak en het vir haar die huissleutels gegee.
Sowat 10:30 het Goosen vir Malan gebel om te sê hy dink die vrou het iets gesteel want sy het spoorloos verdwyn.
Malan het dadelik teruggery, waar sy die hek en die huis oop aangetref het.
“Ek was stomgeslaan. Sy was net weg en ek onthou ek het nog gedink om vir haar R100 te gee vir haar moeite. Ek het dadelik begin rondkyk, maar kon nie sien dat enigiets weg is nie.”
Dit was eers ‘n dag later dat Malan se ma, Daleen Goosen, ontdek het dat sowat R3 000 se juweliersware en geld is uit haar laaikassie gesteel is.
“Dit is meestal van sentimentele waarde, soos my ouma wat Februarie oorlede is se ring en ‘n Krugerhangertjie, maar ek voel baie sleg dat my ouers so ‘n verlies gely het omdat ek iemand probeer help het,” het Malan gesê.
Malan wil vir ander inwoners waarsku teen die geslepe vrou, wat op ’n mens se gevoel speel en hul dan beroof.
Volgens Malan noem die vrou haarself Lucy en gee haar selfoonnommer as 073-963-1501.
Kaptein Coba Brits, woordvoerder van die Villieria-polisiestasie, is ‘n saak van diefstal geopen.
Vir meer nuus, volg ons op Twitter of besoek ons op Facebook.
