Sesjarige Pretorianer het gholfwêreld aan sy voete
Die sesjarige Pieter Hendriks is vanjaar maar in graad een, maar het reeds die gholfwêreld aan die praat.
Staan opsy, Ernie Els en Louis Oosthuizen, want Pieter Hendriks van Pretoria is die volgende groot naam in Suid-Afrikaanse gholf.
Hy is maar net ses jaar oud, maar Hendriks van Doornpoort in die noorde van Pretoria se prestasies op die gholfbaan laat reeds die gholfgemeenskap regop sit.
Hendriks het pas teruggekeer uit Amerika, waar hy aan die US World Kids Golf Championship deelgeneem het. Hy het uiteindelik derde geëindig uit van die wêreld se beste 87 kinder-gholfsterre.
Hierdie mylpaal is ’n reuse verbetering op sy vorige prestasie, toe hy verlede jaar 37ste by dieselfde toernooi geëindig het. In Desember verlede jaar het hy in Maleisië in ’n soortgelyke toernooi 11de geëindig.
Dié graad-een seuntjie van die Laerskool Magalieskruin het reeds op vierjarige ouderdom begin gholf speel. Sy oupa en naamgenoot, Pieter Maré, het vroeg reeds opgelet dat klein Pieter ’n besondere talent het. Hy kon skaars loop, toe speel hy al mededingende tafeltennis en die familie het gesien dié seun se vermoëns met ’n bal is besonder skerp. Hendriks het ook saam met sy oupa begin gholf speel en voor hy drie jaar oud was, het hy bofhoue 40 meter ver geslaan.
Op vierjarige ouderdom het die jong Hendriks reeds aan toernooie in die plaaslike SA Kids-golfreeks deelgeneem. Minder as drie jaar later spog hy reeds met 23 bekers en trofeë wat hy in amptelike toernooie losgeslaan het.
Hoewel die bane vir die jong kinders baie korter gemaak word, speel hulle ook op die standard baansyfer van elke baan. Die bowwe word egter nog nader aan die putjies geskuif, as vir vroue spelers.
Volgens sy oupa is Hendriks se geheim tot sukses eerder sy akkuraatheid as lang bofhoue. Sy oupa dink ook op sesjarige ouderdom toon die jong Pieter tegniese vaardigheid en die temperament om oor ’n dekade of wat die volgende Suid-Afrikaner te wees wat top wêreldtitels inryg.
Vir meer nuus, volg Rekord op Twitter of ‘like’ ons op Facebook.
